Wednesday, April 20, 2011

GELOOFSGEWOONTES VIR PASE

‘n Lewe sonder rituele is soos ‘n sonsondergang sonder kleur.  Rituele gaan oor ráák-sien:  om te weet dat daar ‘n besondere waardevolle oomblik is wat – herhaaldelik – gevier moet word.  Omdat die waardevolle nooit vergeet mag word nie, skep ons rituele om ons daaraan te herinner.  Rituele het te make met die viering van ‘n Ritme-van-Bekendheid.  Dit laat die deelnemers aan daardie rituele voel, “hier is ek tuis”.  Die ritueel het net betekenis as jy die groter prentjie van die ritueel leer waardeer. 
‘n Ritueel is meer as maar net ‘n gewoonte.  Dit is inderdaad ‘n gewoonte … maar ‘n gewoonte wat ‘n simboliese betekenis kry.  Dalk maar wat St Benedictus ook vir ons wou leer met sy Regula:  gewoontes wat so ingeoefen word, tot dit later deel van ons lewe is, en nie meer gewoonte is nie, maar simboliek.
(Hier het ek skielik ‘n stukkie nostalgie wat dan nou vir my sommer broos laat voel … ‘n voorbeeld van ‘n gewoonte-met-betekenis:  vir jare het ek in Port Elizabeth gebly en my ouers in Welkom.  Wanneer ek huistoe verlang het, het ek altyd gesorg dat ek, laatmiddag-skraps-voor-ses, gebel het.  Die telefoon was in die voorportaal, my ma sou soms al by die telefoon sit, wetend dat ek gaan bel.  Al ditjies-datjies-rig, en dan gebeur die groot oomblik:  presies om 6 sou die groot ou “Grand Pa” klok sy ou wysie uitbeur.  Ses slae word afgeslaan.  En dan die onverklaarbare misterie:  as die klok klaar geslaan het, het die hadida’s geskreeu.  Sowaar!   Vandag nog, waar ek ook al ‘n ou regop staanhorlosie hoor, is dit vir my my “ses-uur”.  Elke keer as ek hadida’s hoor, voel ek verlang.  En bel ek.  Want dit is die mense aan wie ek behoort.)
Wat binne die gereformeerde tradisie laat ons voel dat ons “behoort”?  Ons is arm in vergelyking met die ritueelrykheid van die Katolieke of Ortodokse christene.   Die Gereformeerde teologie het ‘n waardevolle bydrae gebring, maar o weë, met ons gereformeerde soberheid het ons onsself van soveel visuele stimilusse gestroop.  Ons het so min gewoontes-gelaai-met-betekenis:  die liturgie moet elke Sondag “verrassend anders” wees (“want netnou doen mense iets uit gewoonte”).  Daar is geen voorgeskrewe rituele nie, nie eers tydens so ‘n ryke tyd soos Lydenstyd nie, want helaas, ons is individualiste, ons word nie maklik voorgeskryf nie.
So lees ek dat Katolieke christene, vandat hulle 14 jaar oud is, tydens Lydenstyd al 7 Vrydae vas (per implikasie ‘n vleislose dieët volg).  Goeie Vrydag is, dwarsdeur die eeue, gesien as ‘n dag van vas.  ‘n Dag wat in stilte deurgebring moes word.  Die Goeie Vrydag-vas is gebreek met ‘n gemeenskaplike ete.  Enkellopendes, weduwees, wewenaars; bejaardes, kind en kraai is na gesinne genooi … niemand eet alleen nie.   Want die Storie van die Kruis, is die Storie van die Kerk, is die Storie van Gemeenskap.  Wat ‘n ritueel!
Watter rituele volg jy (en jou gesin, dalk) in hierdie tyd?  Iets wat jaar na jaar gedoen word, nie omdat dit net ‘n gewoonte is nie, maar omdat dit ‘n gewoonte-met-betekenis is.  Volg ek so ‘n ritueel?  Ja, tog wel.  Jaar na jaar, in Heilige Week, luister ek, aand na aand, na een volle Requiem – met die Duitse en Latynse teks wat woord vir woord gevolg (en soms selfs met ‘n woordeboek aangevul moet word).  Verlede jaar was dit Brahms se Duitse Requiem. Oor en oor en oor.  Hierdie jaar is dit Gardener s’n.  Swaar, donker moeilike musiek.  Soos wat Lydenstyd is!  Maar as ek deur die res van die jaar ooit die musiek oor Classic FM hoor, dan “voel” ek Paasfees.   Ek lees jaar na jaar een spesifieke boek … dieselfde boek … weer van voor tot agter.  Dit is my “Paasfees-boek”.   En ek gaan dit doen tot ek nie meer ‘n boek kan vashou nie.  As ek deur die loop van die jaar bemoediging nodig het, haal ek soms die boek uit my boekrak.  Nie om te lees nie.  Om vas te hou.  Al is die boek al voos vasgehou.  ‘n Gewoonte-met-betekenis vir tye wanneer die “betekenis-van-my-lewe” vol vraagtekens is.
En nou vra ek jou:  hoe vier jy Pase?  Wat is jou Paas-Regula Ek sal graag wil hoor.  Dalk het jy ‘n ritueel wat aansteeklik is dat ander jou daarin wil na-doen.  Vertel ons…

No comments:

Post a Comment