Monday, July 25, 2011

Skuif jou lyf!

Die tema klink dalk 'n bietjie te veel na 'n potensïele Afrikaanse-treffer, laat ek dus dadelik verduidelik: Ek het vanoggend, met nét my rekenaar, geskuif na ‘n kantoor wat son kry. My kantoor sien geen son-vitamiene nie en my groen-geaardheid verhinder my om die lugversorging te gebruik. Hierdie koelte oorskadu later meer as net my lyf en ‘n verwinterde siel groei net in kilheid. Soms moet jy jou lyf skuif voor daar hoegenaamd in jou binneste ‘n verandering kan plaasvind. Twee dae se besoek aan die middestad vir gesprekke oor armoede het my ook met lyf-skuif gekonfronteer. Dit het my laat wonder oor myself en waar ek op die formatio-reis is:

Ek is baie lief vir lees en blaai deur ‘n verskeidenheid van boeke soos reisgidse, (groente)tuin-maak, volhoubare leefstyl, ekologie, sosiale omstandighede in Suid-Afrika en natuurlik ook teologie/spiritualiteit. Hierdie lees en blaai, spoel natuurlik later oor na die biblioteek van die internet met sy eindlose informasie (soms baie oppervlakkig). Uit al hierdie versamelde inligting vloei daar natuurlik heerlike gesprekke met verskillende mense wat ek regtig stimulerend vind.

Tog ontdek ek al meer dat daar ‘n Visrivier Canyon bestaan tussen abstrakte denke, argumente en oortuigings aan die een kant, en hoe ek leef of wat ek doen aan die anderkant. Vir groente om te groei - moet jy saad en jou hande in die grond kry! Om plekke te ervaar, kan jy nie ander se foto’s kyk nie -  jy moet self daar uitkom! Ek kan nie die armes verstaan deur ‘n akademiese argument daaroor te lees nie, ek moet hulle leer ken. Ek gaan nie groener word deur ‘n stapel boeke oor ekologie te lees nie. Ek sal dus my lyf moet skuif! Informasie is dalk verder van formasie as wat ons dink!

My huidige bekering is dus ‘n beweeg vanuit ‘n selfgemaakte wêreld, kom ons noem dit ‘n idée-wêreld. Weg van abstrakte na konkrete...en die enigste manier is deur my lyf op die plekke te kry waar my gedagtes dikwels heen dwaal. Die informasie-era waarin en die intellektuele verwagtinge waarmee ons leef maak dit nie maklik nie!

Dieselfde gebeur met my op die formatio-reis: Ek kan die dissiplines belees, bedink en bepraat. Dit is baie stimulerend! Soms beoefen ek dit selfs, maar te sporadies. Tog hoop ek om minder idealisties oor die kontemplatiewe leefstyl te dink/praat en dit baie eenvoudiger te leef. Dalk het jy ook nodig om klein, eenvoudige - maar gereelde - treë saam met my te gee. Wat is die volgende tree wat jy moet gee op die formatio-reis?

Monday, July 18, 2011

'n Reisgenoot van stilte

Ons het lanklaas gesels! My hoop is dat dit met jou goed gaan...veral wat die formatio-reis betref. Dit was ietwat van 'n hibberneer tyd vir my die afgelope drie weke en dit nie net oor die koue nie. Hoewel ons gesels meer grens aan 'n monoloog voer, help die dwang-skryf my op die reis en om erns daarmee te maak.

Na 'n ope belydenis teenoor twee vriende oor my soeke na stilte en die worsteling om by tye/plekke van stilte kom, kry ek twee dae later 'n e-pos met 'n uitnodiging: "Ek wil vandag erens vir 'n uur in stilte deur Emmarentia park gaan stap. Jy's welkom om my te join! Enige tyd voor 16:00 sal goed wees. Laat weet. Shalom! Tom" Ek en Tom het tydens die etensuur in stilte deur Emmarentia gaan stap en daar is genoeg vista's vir gebed, meditasie, stilte of net wees. By die halpad-draai gaan sit ons simbolies by 'n bankie oorkant die Wes-park begrafplaas. Die verkeer druis onophoudelik tussen die dood en die stilte.

Die ontdekking in Spreuke kom weer by my op: Wysheid staan op die hoek van die markplein en roep! Ek soek haar soveel keer net in die ontvlugting.
Terwyl 'n paar Indian Mina's my oog vang, reflekteer ek oor hoe ek soos hulle maar geneig is om aan te pas by my omgewing en my omgewing se seisoene, dieet en gewoontes. Soms hoop ek om meer die kultuur van ons tyd te beïnvloed as wat ek daardeur gevorm word, maar my oortuigings fladder meestal in my kop. In hierdie middag-uur-dwaal tussen die stilte, die gedruis en die dood vang iets my oog. 'n Spierwit duif vladder speels tot hier reg voor ons twee se swygmoment en ek besef alles sal okay wees...tussen die stilte, die gedruis, die dood en my vreemdelingskap.

Ons stap terug en gesels die laaste vyf minute voor ons groet. Met my omdraai waai vir Tom troon die Hillbrow toring aan die een kant bo my opelug tempel uit, 'n entjie links herken ek Sandton se ontbloting en die SAUK toring vul die leegte aan die regterkant. Ek dink hardop wanneer ek in die Landy klim, "Stilte in die stad is 'n middagete-uur ver." Wanneer Tom by die hek verby my ry besef ek hardop "Nee, stilte is 'n reisgenoot van stilte ver."

My aanvoeling met die dissiplines en die soeke na die kontemplatiewe leefstyl is eenvoudig die wysheid van 'n afrika gesegde: "As jy vinnig wil reis, reis alleen. As jy ver wil reis, reis saam."
Jy kan ook nie hierdie reis alleen aanpak nie.