Wednesday, February 12, 2014

SIEN GOD IN DIE HIER EN NOU

Hoe beleef verskillende persoonlikheidstipes vir God? Dit is waarmee ek in die volgende paar inskrywings op hierde blog my mee wil besig hou.

Die boek van Malcolm Goldsmith, "Knowing Me Knowing God" het my van voor af gedwing om na te dink oor ons eiesoortigheid. Hy gebruik die MBTI-persoonlikheidsanalise as 'n begeleiding om verskillende spiritualiteite te ondersoek. Baie waardevol.

Vandag se stuk wil so bietjie nadink oor die van ons wat ons geloof baie sintuiglik beleef. Die sogenaamde "Sensers"

Sensers” is mense wat inligting deur hul sintuie inneem. In ons spirituele lewe (soos in ons alledaagse lewe) is ons wat voorkeur toon vir “Sensing”, mense wat ingestel is op wat ons sien, hoor, ruik, proe, en voel. Om na ‘n kers te kyk, is iets heel anders vir ‘n “S” as ‘n “N”. Die vlam wat ronddans ráák ‘n “S” se hart (waar die “N” soms kan sê, “ek het nie eers die vlam raakgesien nie). So kan die melodie van ‘n lied vir die “S” net so sterk beïnvloed, soos wat stilte kan … want beide is iets wat “gehoor” word. ‘n Sonsondergang, die reuk van varsgesnyde gras, die delikaatheid van ‘n blom, dit is die dinge wat ‘n “S” aan God laat dink. “Stop and smell the roses” beteken vir ‘n “S” iets heel anders as vir ‘n “N”.

Wat “hier en nou” gebeur, is belangrik. Moenie met vae, komplekse gesprekke oor God die “S” probeer beïndruk nie … Veel meer waardevol is praktiese, tasbare, alledaagse sintuiglike elemente – daarom sal die “S” iets wil dóén. Praktiese liefde moet gedemonstreer word, byvoorbeeld die bord kos wat vir ‘n sieke gekook word.

Ons wat “Intuitief” (“N”) is, kan so baie by die “S”e leer: leer om op jou asemhaling te fokus terwyl jy mediteer. Die “S” is bewus van die beweging van die diafragma; die ribbekas se ritmiese skuif; die warm lug wat uitgeasem word; die koue lug wat die punt van jou neus tref as jy inasem. Wees wakker vir wat jou lyf met al jou sintuie jou wil leer. Moenie dat die alledaagse by jou verbygaan nie. Jy mis God ook in die proses. Wat God is ook in die klein detail.

Wanneer ‘n “S” die bybel lees, sal hulle na spesifieke detail kyk. Hulle sal maklik by hoofstuk een van ‘n bybelboek begin en sistematies deurwerk tot by die laaste punt van die laaste paragraaf. Moet glad nie dink hulle kan nie komplekse filosofie hanteer nie. Inteendeel. Al wat die “S” wil hê, is saam met die kompleksiteit die erkenning dat hul sintuie net so ‘n belangrike rol speel. Helder, duidelike eenvoud sal hul verbeelding veel meer aangryp.

Samuel Miller verstaan die “Sensing” Spiritualiteit goed met sy beskrywing: “Let your soul speak for itself. Some souls hold conversation with God in music, and some in the sowing of seed, and others in the affectionate understanding of their friends”


Thursday, February 6, 2014

PERSOONLIKHEIDSTIPES EN SPIRITUALITEIT

WAT SOU JESUS DOEN?

Is dit so eenvoudig soos die bandjie om jou arm jou in elke situasie wil herinner? Al wat jy moet doen - is die argument - is om te doen wat Jesus sou doen. Imitatio Christi. Is transformasie 'n geloofskloning? Is dit wat Paulus bedoel met, "nou is dit nie meer ek wat leef nie, maar Christus in my"? Hoeveel van my unieke aard (of persoonlikheidstipe) sou moes verander as ek "soos Jesus" in elke situasie sou optree? Of speel unieke persoonlikheid en individuele styl geen rol in gedrag nie?

Die rede waarom ek wel glo dat hierdie vrae tog nadenke werd is, is as ons persoonlikheidstipes en spiritualiteit ernstig wil opneem. Het Jesus 'n bepaalde persoonlikheidstipe gehad? Sou Mevv Meyers en Briggs (van die MBTI-brigade) hom onderhande gehad het, sou hulle sekerlik - soos in elke ander mens se geval - sekere dominante gedrag kon eien. Jesus was seker ook of dominant linkshandig, of regshandig. Daarom seker ook dominant ekstroverties? Dalk eerder 'n "groot prentjie-mens?" Dalk taakgerig - ("Ek't gekom net vir een ding, om my Vader se wil te doen..."). Dalk kon hy maklik sy planne op die nippertjie verander? Of was hy dominant iets heel anders?

Maak dit enigsens saak?

Dalk tog. Petrus het die passievolle en impulsiewe mens gebly wat hy was ... hy sou nooit die dalk meer dominant-inkennige Johannes kon wees nie. Sou die storie van die kerk anders gewees het, met 'n Paulus wat kontra sy aard opgetree het?

In persoonlikheidsontwikkeling praat ons van "helder" persoonlikheidstipes. Helderheid het te make om jouself so eerlik te leer ken en uit te leef "soos jy is" dat dit ook vir mense om jou helder is. Gewoonlik voel ons ongemaklik met die "soos jy is". Maar is een moontlikheid van transformasie nie dalk om al meer te word "dit wat jy - met jou eiesoortigheid - bedoel is om te wees nie". Nie om 'n Jesus te word nie ... maar om al meer eg jouself te word? Die Self gestroop van die Valse Ego; gestroop van die maskers; gestroop van die idee om "soos ander" te wees? Die erkenning van wat nie waarlik "ek" is nie?

Die realiteit is dat 'n sekere persoonlikheidstipe sekere gedragseienskappe impliseer en sekere emosionele behoeftes aandui. Dit sal dan ook waar wees dat persoonlikheidstipes sekere geloofsgewoontes kies om in te oefen wat baie anders sal wees as ander tipes. Ek sal nooit iemand wees wat entoesiasties raak oor groot "Praise n Worship"-geleenthede nie. Dit maak my moeg. Ek sien op daarna om te gaan en ek is bly as dit klaar is. Dis nie waar ek my energie kry nie. Natuurlik sal daar iemand wees wat nie die vaagste benul het waarom dit nou vir my 'n issue is nie.

Al meer begin ek besef dat die "Wat Jesus sou doen" 'n baie meer kollektiewe begrip moet wees. Die vraag is veel meer van toepassing op hoe die Kerk-as-'n-geheel (as 'n enkel liggaam) sou optree? Die "volle pakkie" is hoe Jesus sou optree.

Juis daarom is dit noodsaaklik dat ek my "wie ek is" goed leer ken, juis omdat ek my eie leemtes in die proses ook leer ken. Daardie leemtes word aangevul deur iemand wat hom/haar goed ken, en wie se leemtes dan ook weer deur my sterkpunte aangevul word.

Of is hierdie nou net die gebrabbel van 'n INTP? (Hopelik darem 'n helder INTP wat weet dat haar onvolmaaktheid baie te make het met die afwesigheid van die Groter Geheel...)

Wednesday, August 28, 2013

DRIE MANIERE VAN KYK

Op verskeie maniere kruis die metafoor "om God te sien" my pad die laaste ruk herhaaldelik. Ek sal siender-blind wees as ek dit nie raaksien nie! Is dit moontlik om die "Onsienlike" te sien? Moses het die behoefte om tog net vir God te kan sien. Elia ook. Job het! ("Vroeer het ek van God gehoor, nou het ek gesien...) Johannes meen weer in een van sy briewe, "Niemand het God nog ooit gesien nie". Tog is daar die belofte van die "Sigbare Verborge" wat ontbloot sal word: "as ons mekaar liefhet ... dan sal ons 'sien'...".

Ek lees ... toevallig ... 'n gebed raak: "Wys my wat ek miskyk, Here".
Ek verstom my ... so terloops raakgelees ... aan 'n aanhaling van Simone Weil, "Om aandag te gee is die skaarste en suiwerste vorm van vrygewigheid". (Ek soek "om aandag te gee" op in die woordeboeke: om ag te slaan; om te sien).
Heel uit die bloute vra 'n Joernalis-vriend dat ek 'n paar woorde vir hom op papier sit oor die mistieke. "Die Mistieke is niks anders as 'n manier van kyk nie", begin ek.

Om die Onsigbare te sien! Evelyn Underhill (die eerste vroue teoloog wat by Oxford Universiteit klasgegee het) skryf dat die mistikus bloot iemand is wat ander mense help om anders na die gewone te kyk.

Erens in my geheue bank het ek ... heel terloops ... die inligting van die Fransiskaanse teoloog, Richard Rohr, gestoor; hy wat vertel dat in 'n klooster in Parys 2 monnike in die Middeleeue geleef het wat so oor "sien" geskryf het. Volgens hulle is daar drie maniere van kyk. Almal het 'n "Oog van die Vleeslike Liggaam"- daardie oog waarmee jy die alledaagse, sigbare realiteite rondom jou raaksien. Almal het "Die Oog van Rede". Nadat jy met jou eerste oog gekyk het, help jou tweede oog jou om 'n raps dieper te kyk (dieesdae noem ons dit "dink"). Dit is die vermoe om te kan reflekteer oor wat jy sien. Verrassend genoeg is dit toe nie die oosterse mense wat eiendomsreg op 'n "Derde Oog" het nie. In die Middeleeue het christenmonnikke al gereken daar is ook 'n derde manier van kyk. Dit is 'n raaksien, deuskant begrip en verduidelikings; doeriekant verby analitiese vaardighede en akademiese kennis. Dit noem hulle "Die Oog van Verwondering". Dis om in die donker te kan sien. Dis om "ag te slaan". Dis om jou volle "aandag" te gee. Daar waar jy prysgee wat jy (dink jy)weet, omdat jy weet dat jy eintlik niks weet nie.

Dalk is dit wat die blinde bedelaar bedoel het met "Rabboeni, dat ek kan sien!" Gee my nie net die Oog van die Vlees of die Oog van die Rede nie; maar gee my Die Oog van Verwondering.

Of sou ek bloot bid, "Here, wys my wat kyk ek mis".

Of sou ek soos Simone Weil myself wil herinner: "om my volle aandag te gee aan wat ek om my (nie) sien (nie), is die beste wat ek het om te kan gee"

Tuesday, August 20, 2013

Lectio Divina: 'n ritme in stadige maatslag

Vroegoggend lees ek 'n pleit raak: "Here, leer my om anders oor tyd te dink". Ek weet nie wat die konteks was van die persoon se versugting nie, ek weet wel dat ek my met die gebed kan versoen. "Leer my anders oor tyd dink". Waarskynlik omdat tyd vir ons iets is wat meetbaar is (- dit kan verbygaan; dit kan gemors word; dit kos geld; dit kan nie herroep word nie, want dit vlieg; daar is altyd te min...) is ons lewens ingerig volgens ons horlosies.

Vir die interessantheid het ek so bietjie gaan nalees oor die geskiedenis van horlosies. Eintlik praat ons natuurlik verkeerd, eers was daar tydaanduiders - of dit nou sonwysers was; waterwysers wat min of meer die lengte van 'n uur kon aandui soos 'n sand-uurglas; alles te danke aan die Egiptenare, Babiloniers en selfs die Chinese se intellek.... Dan was daar klokke. Stede het 'n klok gekry wat werkstyd en etenstye aandui. Om te dink dat die priesters in die Middeleeuse kloosters 'n aanddeel gehad het aan die regulering van "klokke". Geloofsgemeenskappe wat saam gebly het, het 'n alarmsisteem nodig gehad, want 8 keer per dag moes daar gebid word. Deur die dag kon 'n mens dalk nog met jou gesig na die son leef ... maar om 3 uur in die oggend op te staan, het 'n mens 'n alarm nodig. Die klok moet geslaan word! (Daarom is die woord wat ons vir tyd gebruik dieselfde as "lui die klok").

Een van die rykhede van Lectio Divina - vir my ten minste - is dat die Heilige Lees nie aan tyd gebonde is nie. Daar is niks wat ek moet "klaarkry" nie. Ek jaag nie om 'n teksgedeelte te lees nie. Ek jaag nie teen 'n "Bybel in een jaar" nie. Ek lees en bedink; lees weer en praat; lees weer en skryf neer; lees weer en bid; lees weer ...". Gister het ek dalk die enkele vers of paragraaf in 'n bekende Bybelvertaling gelees, vandag verras 'n onbekende vertaling my dalk van voor af. So hou ek aan totdat ek seker is dat ek die rykdom van die teks "eet" ... en dit deel van my selle word. Ek is ... omdat ek gevoed is.

Lees ek ter wille van inligtingversameling, noem ons dit "verslind". Vinnig. Nog. 'n Inligtingsvraat. Lees ek ter wille van verandering, noem ek dit "rondrol op my tong". Ek koester die luuksheid van die smaak. Ek probeer so lank moontlik die smaak in my mond vasgevang hou ... te bang dit gaan te vinnig verlore. Die heerlikheid word in al my sintuie gevier; lank nadat ek gesluk het onthou ek nog die ervaring.

Is die heilige lees van 'n heilige teks nie bedoel om heiligmakend te wees nie... Niks kan die proses aanjaag nie.

Monday, August 12, 2013

Lectio Divina: Proe, Ruik, Vervulling

Nog altyd het mense 'n behoefte gehad om met God "kontak te maak". Vroeg in Genesis (Hf 11)lees ons van mense wat 'n stad met 'n toring wou bou, "waarvan die punt tot in die hemel reik". Waarom so 'n lawwe idee? Want dit is waar God sou wees. As hulle by God kan uitkom, dan is hulle gewis mense van wie ons maar kan kennis neem! Daarom begin hulle bou ... en bou en bou... Dan is daar die tong-in-die-kies vertelling waar God toe maar liefs "afgekom het" (want hoe hoog sou so toring nou moes wees?)

'n Ander storie van God wat "afkom" ken ons goed! Jakob rus die nag met sy kop op 'n klip (...enige mens sal dan seker erge drome droom...). Juis toe ook so! In die droom sien hy 'n leer, stewig geplant op die aarde, waarvan die punt die hemel aanraak. Energieke engele woer op en af op die sparre van die leer. Die volgende oomblik staan God by Jakob. Weereens God wat "afgekom" het.

Ons het seker nog nooit ophou droom van "raak aan God" nie! Erens lees ek in hierdie tyd dat een ruimtereisiger - na 'n wentelvlug in die hemelruim - rapporteer het, "Nee, ek het toe nie vir God gesien nie".

(Dalk is die soeke na God nie daarbo nie, maar hier onder? Hier op die grond?)

In die jaar 1150 nC het 'n monnik, Guigo die 2de, in die tuin gewerk in die klooster in Frankryk waar hy gebly het. So aan't wortels en boontjies plant en kontempleer oordie gedeelte uit Gen 28:11-19 (gaan lees dit gerus), gaan daar skielik 'n liggie in Vader Guigo se kop aan! Natuurlik, dis hoe hy sy medebroers en susters moet leer. gebed is soos Jakob se leer. Die eerste treetjie word hier "op aarde" geneem, hier waar die leer vasgeplant is. Hierdie eerste treetjie noem hy toe "Lectio" (lees). Om God aan te raak (... of dalk anders om: God wat ons aanraak) begin by 'n heel "gewone" plek. Luister hoe beskryf iemand "Die 4-sport Leer" van Guigo:

"There are only a few distinct steps, but the distance covered is beyond measure and belief since the lower part is fixed on the earth and its top passes through the clouds to lay bare the secrets of heaven"

Stap 1 ("Lees) is gewis die belangrikste tree. (Leer ons juis nie vir mense die reis begin by die eerste tree nie?)Die probleem is dat die meeste van ons by Stap 1 bly! Wat van sportjie 2? Wat van "Meditatio"? As jy net lees (en dit gewoonlik selfs nog vinnig doen) ... en nooit nadink daaroor nie (...al is dit dan tussen die boontjies en die wortels) ... hoe gaan jy ooit "boontoe"? Ja, dalk is ons darem al by die 2de trappie. Maar dit lyk dalk so hoog boontoe? Dit voel dalk soos harde werk? Dit vra baie tyd!

Tog, so skryf Guigo, as jy begin by God se openbaring hier op aarde, en aanhou klim, op met die trappe van nadink; op met die trappe van gebed ("Oratio") en aanhou ... dan gebeur iets wonderlik met jou. "Die hemel gaan oop". Of dalk is dit wat Jakob ontdek: "God kom af!" En nou verstaan 'n mens dalk sy 4de trappie die beste: "Contemplatio". Of ons sou dit seker bloot kon noem: VERWONDERING! Die oopmond staan en ... Wel, jy staan maar net. Jy weet nie watter woorde is groot genoeg nie. Jy besef jy het nie woorde nie. Nou is net stilbly die regte reaksie.

Om te lees is om te soek. Om na te dink is om te verstaan. Om te bid is om te vra. Om in verwondering by God te staan, is om te voel.

Of soos Vader Guido dit verduidelik het: Lectio is die eerste hap in jou mond; Meditatio is om te kou totdat alles verteerbaar word; Oratio bring die smaak na vorige en Contemplatio is die versadiging.

Friday, August 2, 2013

Uitblinkers van geloofsdissiplines ... of uitvoerders danksy geloofsdissiplines

Vanoggend was ‘n oggend vol drama! Hoe “bestuur” ‘n mens uiters bekommerde familielede se vrees as ‘n familielid dreig met selfmoord? Erger nog, as daar die subtiele boodskappe van gesinsuitwissing is? Dan spring ‘n mens in “auto pilot”-modus: die regte kanale moet gevolg word; spesialis-maatskaplike werkers word ingetrek; sielkundiges, ens. Na talle telefoonoproepe en opvolg-eposse, met jou koppie tee lankal yskoud langs jou, sit jy terug in die leunstoel en wonder: is dit nou ‘n storm in ‘n teekoppie, of is dit die seismograwe se waarskuwing van ‘n aankomende tsunami? Hoe weet jy? Bid dan maar vir die teekoppie-storm en berei voor asof vir ‘n tsunami. Dan broei my eie issigrimmigheid nog ook (… synde belydenis ook ‘n geloofsdissipline is…) – hier moet ek nou krisispastoraat doen (terwyl ek kon prekmaak) … en dit vir mense wat nie eers deel van die geloofsgemeenskap is nie. Waar kom hulle vandaan? Hoekom land dit altyd in mý mandjie…

In my agterkop (dis nou terwyl ek my issigrimmigheid so halfpad troetel) herinner my geheue my aan ‘n sin wat ek onlangs gelees het: “nooit mag iets – enige iets - in die plek van liefde staan nie”. My agenda van die oggend kan nie belangriker wees as om iemand in nood te ondersteun nie. My ou ego’tjie moet ek maar bestuur … ook dit kan nie in die pad van hulp staan nie! Dis my les van die dag! Of dit ‘n teekoppiestorm is, of ‘n tsunami-ramp is … daaroor het ek nie beheer nie … ek het beheer oor my ingesteldheid en my bereidwilligheid om te versorg.

En daarmee daag ek jou uit, bedink bietjie die week wat verby is, selfs insidente wat sinloos (of soos tydmors) gevoel het: wat van jouself moet jy maar eerlik in die gesig kyk (die bybel noem dit ‘bely’)? Waar kan jy God se hand duidelik raaksien? Waar het jy dalk ‘n kans gemis om God raak te sien? Net so belangrik: Waar was jy vir iemand God se hand?

Die doel van geloofsoefeninge is nie om uitblinkers te word in die beoefening van stilte en afsondering; eenvoud en bybellees; gebed en regula’s nie … dit is om al meer te groei in die gestalte van Jesus in. Die doel van spirituele dissiplines is om – soos Eugene Peterson dit noem – “rythms of grace” te skep … juis sodat jy ‘n medewerker word van heelheid: in jouself … in ander … en veral ook vìr ander.

Monday, July 29, 2013

Lig Leef - 'n geloofsdissipline oppad na 'n nuwe seisoen

Een maal 'n jaar het ek 'n "DERTIG DAE PROJEK". Die 1ste Augustus breek dit aan. Geen rede waarom juis nou nie. Bloot gebeur dit eenmaal per jaar; en toevallig is dit nou so goeie tyd soos enige ander tyd. En as ek aan ons Formatio-groep dink, is dit dalk die "perfekte" tyd: wintertyd is nogal opgaartyd (al is dit die ekstra rolletjie om die lyf omdat vroegoggend-opstaan net te uitdagend is).

Ek en 'n goeie vriend het 'n paar jaar gelede met die projek begin. Intussen het dit gegroei na 'n handvol vriende. (Waarskynlik omdat ons weet as ons dit op ons eentjie moet doen, stop 'n mens maklik, die oomblik as jy by Dag 15 kom en jou weggee nou nie meer so "gerieflik" is nie.)

Die vraag waaroor dit eintlik gaan, is ons behoefte om "Lig te Leef". Die proses van skoonmaak word meer 'n "binnereiniging". Dit word 'n herwaardering van wat my waardesisteem is. Waarom besit ek wat ek het? Watter van my besittings besit my?

Dit gaan veel meer oor "wakkerword" vir dit waarvan ek 'n gevangene is...

Soms is dit ‘n pynlike oefening om jouself af te vra, wat is jy bereid om vandag weg te gee? As jy rustig deur jou huis sou stap, na elke item te kyk, vra jouself af,

• Waarvan sal jy regtig maklik ontslae kan raak? Hoekom sal jy maklik daarvan kan afskeid neem? Het dit iets met die waarde van die artikel te make? Dalk die maklike vervangbaarheid daarvan? Het dit te make daaraan dat jy geen emosionele waarde daaraan het nie? Ja, daar is inderdaad goed waarvan ons maklik ontslae kan raak, die vraag is hoekom? Wat is dit? Hoekom is jy nie daaraan ‘gebind’ nie.

• Waarvan sal jy regtig moeilik ontslae kan raak? Wees eerlik in hierdie oefening. Is dit omdat daar ‘n “storie” saam met die besitting gekom het? Troetel jy ‘n stuk geskiedenis? Hoeveel van jou ego is gekoppel aan daardie besitting van jou? Wat sal met jou gebeur as iemand daardie besitting van jou breek, of steel? Verbeel jou net vir ‘n oomblik dat jy kies om daardie besitting van jou vandag aan iemand te gee, aan wie sal dit wees? Waarom kies jy daardie persoon? Kan dit wees dat jy dan nogsteeds beheer oor die besitting sou kon hê, op grond van jou keuse wie die nuwe eienaar moes wees?

Dis vir my nodig om myself daaraan te herinner dat niks wat ek besit werklik "myne" is nie. Ek neem dus net so veel van van my eie gierigheid-om-te-besit afskeid, as wat ek die dissipline van vrygewigheid inoefen.

Hoe werk dit? Dit is juis 'n inoefening van 'n Regula om te kies wat vir my belangrik is. Nee, ek kan myself ongelukkig nie mislei deur elke dag ‘n boek weg te gee nie (gewis het ek meer as 30 boeke waarvan ek elke dag, stuk-stuk, sou kon weggee, en dan sou ek steeds te veel gehad het). Maar dit was nie so maklik nie! Ons het onsself met bepaalde riglyne beperk: een dag was ‘n dag vir klere weggee; eendag boeke; een dag linne, eendag kombuisartikels, ensovoorts. In die begin was dit maklik ... later het dit al swaarder begin word. Ons het ook met mekaar gesels oor waarom ons op ‘n dag ‘n bepaalde keuse vir iets gemaak het, gelyktydig omdat dit soms gehelp het met die afskeid neem van iets wat vir ons waardevol was, maar soms as ‘n aanmoediging om mekaar aan te moedig om nie “kop uit te trek” nie.

• Deesdae, wanneer ek iets koop, moet ek iets anders in die plek daarvan uit my huis uitneem. Ek is ‘n bibliofiel! Ek het eendag besef dat ek of nuwe boekrakke gaan moet aankoop, of ek gaan boeke moet aangee vir ander. Nou het ek ‘n enkele boekrak in my studeerkamer. Daardie is my boekrak, niks meer nie! Dit impliseer dat ek vrygewig moet raak met wat ek besit, want my boekrak kan nie meer dra as tans nie....

So werk dit in my huis met die aanskaf van klere ... iets kom in die hande van ‘n ander, as iets nuuts gekoop word.

En ek kan nou aan geen beter tyd dink as in hierdie laaste wintermaand om my Dertig Dae Projek aan te pak nie. Dit is die beste tyd vir 'n ritme van Lig Leef in te oefen, voor 'n nuwe seisoen begin.