Monday, February 28, 2011

VAARDIGHEDE VRA OEFEN. EN OEFEN HET TYD NODIG.

‘n Week of wat gelede het ons ‘n bedieningsleiersvergadering by FGK gehad. Een van die vrae wat die groepe moes bespreek, was “Wat weerhou jou daarvan om jou gawes uit te leef?” Die antwoorde wat uit die verskillende groepe gekom het, kan ‘n mens met ‘n enkele woordjie saamvat: “Tyd!”

Ek bly verstom oor mense se belewenis dat TYD hul grootste “vyand” is. Daar is klaarblyklik nie genoeg ure in die dag om oral uit te kom nie, en mense leef daarom met skuldgevoelens. Daar is ‘n algemene gevoel dat die lewe te gejaagd is.

Dan lees ek ‘n pragtige paragraaf in Richard Dahlstrom se “O₂: Breathing New Life into Faith”

Does the marathon runner have time to ingest water along the route? Does the hiker have time to check the map and compass? Does the woodcutter have time to sharpen the saw?

Die beginsel is dat ons keuses maak met hoe ons tyd spandeer. Daar gaan nooit méér of minder ure in ‘n dag wees nie. En dit impliseer dat daar sekere tye van die dag moet wees wat opgesy gesit moet word, sodat ek my lewenskaart kan bestudeer ... net om seker te maak dat ek nog op koers is.

En dalk is dit wat die REGULA IS: die kaart wat koers aandui.
Natuurlik mag dit wees dat jy, ná ‘n maand, sê, “dit werk nie vir my nie”. Die een ding waaraan jy jouself kan troos, is dat die probleem nie die geloofsdissipline is nie. Hierdie geloofsdissipline (REGULA) is deur die eeue “bewys” as die metode waardeur mense die ritmes van hul lewens kon bestuur. As dit dan nie die REGULA is nie, wat kan jou dan wil laat handdoek ingooi?

Dalk is jy te haastig en verwag jy te vinnig “resultate”? Dalk is jou idée van “resultate” te suksesgedrewe? Dalk is jou doelwitte wat jy vir jouself gestel het onrealisties? Dalk glip jy te vinnig terug in ou patrone en wyk jou motivering? Dalk sug jy bloot met ‘n “ek weet nie hoe nie”?

Dit laat my dink aan my sus se 18 maande oue seuntjie wat deesdae met sy eie lepeltjie sy eie kos probeer eet. Elke tweede happie val terug in die bord; meer kos word rondgeskuif as wat op die lepel self beland; sy hand- en mondkoördinasie is nog nie goed ingeoefen nie. En soos wat ek menswees ken, gaan ons familie oor ‘n jaar of drie vergeet dat hy so gesukkel het, want dan gaan hy net so vaardig soos ons sy vleis sny, sonder mors die kos in sy mond kry en later selfs vra vir nóg.

Dis hoe oefeninge werk!

Maar dit vra tyd.

Tuesday, February 22, 2011

REGULA: 'N STOK WAT SLAAN OF MEET?

As jy, soos ek, die afgelope ruk met jou oog op die kalender leef en dink, “die volgende Maandag kom nader en ek is nog nie klaar nie…”, dan is dit nodig dat jy verder lees.

Hierdie nadenke oor jou leefbeginsels is nie iets wat soos ‘n swaard bo jou kop moet hang nie; dis nie iets wat jy moet “klaarkry” nie. Dit is ‘n leeftyd se nadenke waaraan jy nou bloot, bewustelik (of soos die aanhaling laer af op die bladsy lees: “intentionally, creating space for God”), aandag gee. Maar daar lê nog ‘n leeftyd voor waar jy steeds daaraan aandag gaan gee. Want jy bly ‘n mens-in-wording.

Een van die belangrike beginsels in die inoefening van geestelike dissiplines is dat sommige vir ‘n mens makliker voel as ander. Elkeen van ons het ‘n gemaklike, natuurlike neiging om sommige eerder in te oefen as ander. Dit mag wees dat dit ons uitdaging word, om juis op dié te fokus wat ons andersins afskeep. Dit mag ook wees dat jy bloot net nie nou by die “plek” in jou lewe is waar sekere beginsels gemaklik by jou lewe inpas nie.

So mag dit wees dat jy ‘n jong ma met klein kindertjies is en dat jou behoefte na stilte en afsondering is. Verstaan dat dit jou behoefte is, maar verstaan ook dat jy nie nou in daardie fase van jou lewe is waar dit vir jou ‘n “ononderhandelbare” kan word nie. Want jou lewe het nou ‘n ander dinamika, wat ander behoeftes na vore bring.

Die belangrike wat ‘n mens met die REGULA moet onthou is “plooibaarheid”. Dit mag nooit ‘n swart-of-wit beginsel wees wat jou soos ‘n hond-op-jou-hakskeen jaag nie. St Benediktus het probeer om ‘n riglyn te skryf om dit vir die mense juis makliker te maak om saam te leef, nie moeiliker nie.

Thursday, February 17, 2011

Waarom doen ek dit?

Een van die Formatianers (... dalk kan ek geld maak met hierdie selfgeskepte woord?) het vir my in die week hierdie skakel van 'n "klippie" (clip) aangestuur. 

Dis 'n eerlike selfgesprek.  En dis dalk presies wat die REGULA van elkeen van ons vra:  'n eerlike selfondersoek.  Waarom doen ek dit?  Waarom dink ek na oor my lewe, ook my "alledaagse lewe".  Dalk is die REGULA juis om ons te help, om, in die woorde van Paulus, alles wat ons doen, of dit drink of eet of kuier of werk is, dit op so 'n manier te doen, dat God daarin raakgesien kan word.

Tuesday, February 15, 2011

Balans: om te bid en te werk

Vandag wonder mense waarom hy so ‘n aangrypende invloed op die mense van sy tyd gehad het.  Hy is reeds 1500 jaar gelede dood, maar dit is veral in die afgelope paar jaar dat daar - veral onder gereformeerde christene, wêreldwyd  - ‘n hernude belangstelling in sy nalatenskap is.  Hy is die skrywer van ‘n klein boekie wat ons vandag sommer in ons spreektaal ken as “The Rule of St. Benedict”, of “Regula Benedicti”.
Ontmoet die Italiaanse monnik, Benediktus.  In die katolieke tradisie beter bekend as “Saint Benedict”.  Een van ‘n tweeling, met sy suster, St Skolastika, die non, wat – net soos haar broer – ‘n groot rol in die kloosterlewe van die christelike kerk gespeel het.
Wat Benediktus so besonder gemaak het, is dat hy in sy leeftyd dit kon regkry om in byna elke Italiaanse dorpie ‘n groep mense bymekaar te kry wat hulself vir God wou afsonder én ‘n verskil aan die omgewing waarbinne hulle leef wou maak.  Dit was die begin van die kloosters in die kerk se geskiedenis. 
Op geen manier het Benediktus so ‘n lewe van “afsondering” verstaan as ‘n terugtrek uit die wêreld nie.  Inteendeel, het hy gereken, hoe meer ‘n mens “soos Christus” word, hoe meer sal jy in die wêreld ‘n verskil maak.  Dit is inderdaad vanuit hierdie kloosters dat die meeste van die leiers van Europa (kerklik en polities) opgevoed is.
Tussen die jare 530 en 560 n.C  skryf Benediktus die REGULA -  handleiding om mense te help om binne hulle alledaagse lewe meer “soos Christus” te leef.  Hy hou hom met een vraag besig:
Hoe leef ‘n mens ‘n lewe, gebou op die beginsels van die evangelie, wat getuig van vrygewigheid (“charity”), nederigheid (“humility”), gebalanseerdheid (“stability”) en toegewydheid (“faithfulness”)?
Die hele REGULA het net een doelwit:  hoe om jou te help om – as ‘n veranderde mens deur die werk van die Heilige Gees, al meer Christusgelyk – lewende getuies te wees van die genade van God.
Geen mens kan net van bid alleen leef nie, het Benediktus die monnike en die nonne geleer.  Geen mens kan net wil werk nie, het Benediktus die mense buite die kloosters geleer.  Daar moet BALANS in ‘n mens se lewe wees tussen bid en werk.  En vandaar kom sy bekende sinnetjie:  ORA ET LABORA.  Bid en werk.  Nie net die een nie.  Nie net die ander een nie.  In gelyke mate, beide!
As jy dus jou REGULA van jou eie lewe ontwerp, is dit wat jy moet onthou:  BALANS.
In moderne taal sal ons van “’n heel mens” praat.  Iemand wat geïntigreerd leef.  Iemand wat nie ‘n onderskeid maak tussen “spiritueel” en “gewoon” nie.  Iemand wat leer prioriseer.  Iemand wat terugtrek na die binnekamer om tyd saam met God te spandeer, maar iemand wat dan opstaan en God in die wêreld gaan soek, daar waar God besig is om die koninkryk te laat kom.

Monday, February 14, 2011

‘n Regula vir die mens-in-wording

“Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie; maar dié wat siek is”, aldus Jesus in Lukas 5:32. Dan is dit seker nie verkeerd om af te lei dat “dié wat reeds ménswees volledig bemeester het, nie ‘n REGULA nodig nie”?  Wie dan?  Seker húlle wat in hulself ‘n groeiende behoefte het aan ‘n lewe veel
dieper en grootser
vrygewiger en nederiger
eerliker en wyser
intiemer en mensliker.

‘n REGULA is bedoel om ‘n persoonlike riglyn te wees wat vir jou die koers van jou lewe aandui.  Gelyktydig is dit ook ‘n maatstaf wat jou help om te bepaal of jy nog op koers is.  Dit help jou droom oor jou lewe, en dit help jou “meet” hoe jy vorder in jou groeiproses. Dit laat jou nadink oor die “bedoeling van jou hart”.  ‘n REGULA gaan oor jou alledaagse lewe, want spiritualiteit is deel van jou alledaagse lewe!  Om al meer in die “gestalte van Jesus” in te groei is die fokus van ons REGULA’S. 

 ‘n Mens sou goedskiks dink dat ons ‘n REGULA eers moes opstel aan die einde van hierdie jaar se saamstap en nadink oor geloofsdissiplines.  Hoe kan ons besluit ons wil, byvoorbeeld, eenmaal ‘n jaar op ‘n retreat gaan, as ons nog nie die dissipline van afsondering bespreek het nie?  Moet ‘n mens nie eers “al” die inligting hê alvorens jy jou REGULA opstel nie?  Nee!  Ons almal sien, alla Paulus, net ten dele.  Ons is immer ‘n produk-in-wording.  Ons lewens is ‘n dinamiese proses, nooit voltooid nie; nooit met alle inligting voor die hand nie.  Daarom gaan ons, voortdurend, deur die loop van ons FORMATIO-geleenthede, ons REGULA’S “lewendig” hou.    

So skryf Lynn Bauman:
By using a Rule an individual becomes an intentional pilgrim on a sacred journey through space and time, seeking wisdom, and the Rule acts as a guide or a template by which one can maintain balance, equilibrium and discipline on the Path. It is also a means by which an individual might measure the progress of his or her spiritual pilgrimage and practice accountability to a higher power or authority.

Ek hoor graag van jou terwyl ons saam aan ons REGULA’S werk.  Waarmee sukkel jy?  Watter vra het jy?  Watter insigte ontwikkel jy?   Wat het jy in jou nota’s gelees waarop jy kommentaar wil lewer.  Hierdie is die plek waar jy dit gerus kan doen.  GESELS SAAM!

Friday, February 11, 2011

aanhalings vir nadenke

“Disciplines are intentional ways we open space in our lives for the worship of God”
Adele Ahlberg Calhoun

“We have become consumers of religion rather than cultivators of a spiritual life; we have spawned an industry of Christian kitsch and bookstores full of spiritual junk food that leaves us sated and flabby.”  
Dennis Olkholm