Monday, July 29, 2013

Lig Leef - 'n geloofsdissipline oppad na 'n nuwe seisoen

Een maal 'n jaar het ek 'n "DERTIG DAE PROJEK". Die 1ste Augustus breek dit aan. Geen rede waarom juis nou nie. Bloot gebeur dit eenmaal per jaar; en toevallig is dit nou so goeie tyd soos enige ander tyd. En as ek aan ons Formatio-groep dink, is dit dalk die "perfekte" tyd: wintertyd is nogal opgaartyd (al is dit die ekstra rolletjie om die lyf omdat vroegoggend-opstaan net te uitdagend is).

Ek en 'n goeie vriend het 'n paar jaar gelede met die projek begin. Intussen het dit gegroei na 'n handvol vriende. (Waarskynlik omdat ons weet as ons dit op ons eentjie moet doen, stop 'n mens maklik, die oomblik as jy by Dag 15 kom en jou weggee nou nie meer so "gerieflik" is nie.)

Die vraag waaroor dit eintlik gaan, is ons behoefte om "Lig te Leef". Die proses van skoonmaak word meer 'n "binnereiniging". Dit word 'n herwaardering van wat my waardesisteem is. Waarom besit ek wat ek het? Watter van my besittings besit my?

Dit gaan veel meer oor "wakkerword" vir dit waarvan ek 'n gevangene is...

Soms is dit ‘n pynlike oefening om jouself af te vra, wat is jy bereid om vandag weg te gee? As jy rustig deur jou huis sou stap, na elke item te kyk, vra jouself af,

• Waarvan sal jy regtig maklik ontslae kan raak? Hoekom sal jy maklik daarvan kan afskeid neem? Het dit iets met die waarde van die artikel te make? Dalk die maklike vervangbaarheid daarvan? Het dit te make daaraan dat jy geen emosionele waarde daaraan het nie? Ja, daar is inderdaad goed waarvan ons maklik ontslae kan raak, die vraag is hoekom? Wat is dit? Hoekom is jy nie daaraan ‘gebind’ nie.

• Waarvan sal jy regtig moeilik ontslae kan raak? Wees eerlik in hierdie oefening. Is dit omdat daar ‘n “storie” saam met die besitting gekom het? Troetel jy ‘n stuk geskiedenis? Hoeveel van jou ego is gekoppel aan daardie besitting van jou? Wat sal met jou gebeur as iemand daardie besitting van jou breek, of steel? Verbeel jou net vir ‘n oomblik dat jy kies om daardie besitting van jou vandag aan iemand te gee, aan wie sal dit wees? Waarom kies jy daardie persoon? Kan dit wees dat jy dan nogsteeds beheer oor die besitting sou kon hĂȘ, op grond van jou keuse wie die nuwe eienaar moes wees?

Dis vir my nodig om myself daaraan te herinner dat niks wat ek besit werklik "myne" is nie. Ek neem dus net so veel van van my eie gierigheid-om-te-besit afskeid, as wat ek die dissipline van vrygewigheid inoefen.

Hoe werk dit? Dit is juis 'n inoefening van 'n Regula om te kies wat vir my belangrik is. Nee, ek kan myself ongelukkig nie mislei deur elke dag ‘n boek weg te gee nie (gewis het ek meer as 30 boeke waarvan ek elke dag, stuk-stuk, sou kon weggee, en dan sou ek steeds te veel gehad het). Maar dit was nie so maklik nie! Ons het onsself met bepaalde riglyne beperk: een dag was ‘n dag vir klere weggee; eendag boeke; een dag linne, eendag kombuisartikels, ensovoorts. In die begin was dit maklik ... later het dit al swaarder begin word. Ons het ook met mekaar gesels oor waarom ons op ‘n dag ‘n bepaalde keuse vir iets gemaak het, gelyktydig omdat dit soms gehelp het met die afskeid neem van iets wat vir ons waardevol was, maar soms as ‘n aanmoediging om mekaar aan te moedig om nie “kop uit te trek” nie.

• Deesdae, wanneer ek iets koop, moet ek iets anders in die plek daarvan uit my huis uitneem. Ek is ‘n bibliofiel! Ek het eendag besef dat ek of nuwe boekrakke gaan moet aankoop, of ek gaan boeke moet aangee vir ander. Nou het ek ‘n enkele boekrak in my studeerkamer. Daardie is my boekrak, niks meer nie! Dit impliseer dat ek vrygewig moet raak met wat ek besit, want my boekrak kan nie meer dra as tans nie....

So werk dit in my huis met die aanskaf van klere ... iets kom in die hande van ‘n ander, as iets nuuts gekoop word.

En ek kan nou aan geen beter tyd dink as in hierdie laaste wintermaand om my Dertig Dae Projek aan te pak nie. Dit is die beste tyd vir 'n ritme van Lig Leef in te oefen, voor 'n nuwe seisoen begin.

No comments:

Post a Comment