Thursday, February 6, 2014

PERSOONLIKHEIDSTIPES EN SPIRITUALITEIT

WAT SOU JESUS DOEN?

Is dit so eenvoudig soos die bandjie om jou arm jou in elke situasie wil herinner? Al wat jy moet doen - is die argument - is om te doen wat Jesus sou doen. Imitatio Christi. Is transformasie 'n geloofskloning? Is dit wat Paulus bedoel met, "nou is dit nie meer ek wat leef nie, maar Christus in my"? Hoeveel van my unieke aard (of persoonlikheidstipe) sou moes verander as ek "soos Jesus" in elke situasie sou optree? Of speel unieke persoonlikheid en individuele styl geen rol in gedrag nie?

Die rede waarom ek wel glo dat hierdie vrae tog nadenke werd is, is as ons persoonlikheidstipes en spiritualiteit ernstig wil opneem. Het Jesus 'n bepaalde persoonlikheidstipe gehad? Sou Mevv Meyers en Briggs (van die MBTI-brigade) hom onderhande gehad het, sou hulle sekerlik - soos in elke ander mens se geval - sekere dominante gedrag kon eien. Jesus was seker ook of dominant linkshandig, of regshandig. Daarom seker ook dominant ekstroverties? Dalk eerder 'n "groot prentjie-mens?" Dalk taakgerig - ("Ek't gekom net vir een ding, om my Vader se wil te doen..."). Dalk kon hy maklik sy planne op die nippertjie verander? Of was hy dominant iets heel anders?

Maak dit enigsens saak?

Dalk tog. Petrus het die passievolle en impulsiewe mens gebly wat hy was ... hy sou nooit die dalk meer dominant-inkennige Johannes kon wees nie. Sou die storie van die kerk anders gewees het, met 'n Paulus wat kontra sy aard opgetree het?

In persoonlikheidsontwikkeling praat ons van "helder" persoonlikheidstipes. Helderheid het te make om jouself so eerlik te leer ken en uit te leef "soos jy is" dat dit ook vir mense om jou helder is. Gewoonlik voel ons ongemaklik met die "soos jy is". Maar is een moontlikheid van transformasie nie dalk om al meer te word "dit wat jy - met jou eiesoortigheid - bedoel is om te wees nie". Nie om 'n Jesus te word nie ... maar om al meer eg jouself te word? Die Self gestroop van die Valse Ego; gestroop van die maskers; gestroop van die idee om "soos ander" te wees? Die erkenning van wat nie waarlik "ek" is nie?

Die realiteit is dat 'n sekere persoonlikheidstipe sekere gedragseienskappe impliseer en sekere emosionele behoeftes aandui. Dit sal dan ook waar wees dat persoonlikheidstipes sekere geloofsgewoontes kies om in te oefen wat baie anders sal wees as ander tipes. Ek sal nooit iemand wees wat entoesiasties raak oor groot "Praise n Worship"-geleenthede nie. Dit maak my moeg. Ek sien op daarna om te gaan en ek is bly as dit klaar is. Dis nie waar ek my energie kry nie. Natuurlik sal daar iemand wees wat nie die vaagste benul het waarom dit nou vir my 'n issue is nie.

Al meer begin ek besef dat die "Wat Jesus sou doen" 'n baie meer kollektiewe begrip moet wees. Die vraag is veel meer van toepassing op hoe die Kerk-as-'n-geheel (as 'n enkel liggaam) sou optree? Die "volle pakkie" is hoe Jesus sou optree.

Juis daarom is dit noodsaaklik dat ek my "wie ek is" goed leer ken, juis omdat ek my eie leemtes in die proses ook leer ken. Daardie leemtes word aangevul deur iemand wat hom/haar goed ken, en wie se leemtes dan ook weer deur my sterkpunte aangevul word.

Of is hierdie nou net die gebrabbel van 'n INTP? (Hopelik darem 'n helder INTP wat weet dat haar onvolmaaktheid baie te make het met die afwesigheid van die Groter Geheel...)

2 comments:

  1. Selfkennis ‘n klein deel is van bewuswording van die ego, maar dat dit deur ‘n doelbewuste poging is om nader aan God te beweeg wat die transformasie teweeg bring. … en dis waar die mistieke dan (mysinsiens) in kom.

    Ek het op hierdie skrywe afgekom wat dit kortstondig saamgevat het: http://www.sgm.org.nz/Research%20Papers/Mysticism%20in%20the%2021st%20Century%20-%20Sally%20Smith.pdf

    ReplyDelete
  2. This comment has been removed by the author.

    ReplyDelete