Wednesday, August 28, 2013

DRIE MANIERE VAN KYK

Op verskeie maniere kruis die metafoor "om God te sien" my pad die laaste ruk herhaaldelik. Ek sal siender-blind wees as ek dit nie raaksien nie! Is dit moontlik om die "Onsienlike" te sien? Moses het die behoefte om tog net vir God te kan sien. Elia ook. Job het! ("Vroeer het ek van God gehoor, nou het ek gesien...) Johannes meen weer in een van sy briewe, "Niemand het God nog ooit gesien nie". Tog is daar die belofte van die "Sigbare Verborge" wat ontbloot sal word: "as ons mekaar liefhet ... dan sal ons 'sien'...".

Ek lees ... toevallig ... 'n gebed raak: "Wys my wat ek miskyk, Here".
Ek verstom my ... so terloops raakgelees ... aan 'n aanhaling van Simone Weil, "Om aandag te gee is die skaarste en suiwerste vorm van vrygewigheid". (Ek soek "om aandag te gee" op in die woordeboeke: om ag te slaan; om te sien).
Heel uit die bloute vra 'n Joernalis-vriend dat ek 'n paar woorde vir hom op papier sit oor die mistieke. "Die Mistieke is niks anders as 'n manier van kyk nie", begin ek.

Om die Onsigbare te sien! Evelyn Underhill (die eerste vroue teoloog wat by Oxford Universiteit klasgegee het) skryf dat die mistikus bloot iemand is wat ander mense help om anders na die gewone te kyk.

Erens in my geheue bank het ek ... heel terloops ... die inligting van die Fransiskaanse teoloog, Richard Rohr, gestoor; hy wat vertel dat in 'n klooster in Parys 2 monnike in die Middeleeue geleef het wat so oor "sien" geskryf het. Volgens hulle is daar drie maniere van kyk. Almal het 'n "Oog van die Vleeslike Liggaam"- daardie oog waarmee jy die alledaagse, sigbare realiteite rondom jou raaksien. Almal het "Die Oog van Rede". Nadat jy met jou eerste oog gekyk het, help jou tweede oog jou om 'n raps dieper te kyk (dieesdae noem ons dit "dink"). Dit is die vermoe om te kan reflekteer oor wat jy sien. Verrassend genoeg is dit toe nie die oosterse mense wat eiendomsreg op 'n "Derde Oog" het nie. In die Middeleeue het christenmonnikke al gereken daar is ook 'n derde manier van kyk. Dit is 'n raaksien, deuskant begrip en verduidelikings; doeriekant verby analitiese vaardighede en akademiese kennis. Dit noem hulle "Die Oog van Verwondering". Dis om in die donker te kan sien. Dis om "ag te slaan". Dis om jou volle "aandag" te gee. Daar waar jy prysgee wat jy (dink jy)weet, omdat jy weet dat jy eintlik niks weet nie.

Dalk is dit wat die blinde bedelaar bedoel het met "Rabboeni, dat ek kan sien!" Gee my nie net die Oog van die Vlees of die Oog van die Rede nie; maar gee my Die Oog van Verwondering.

Of sou ek bloot bid, "Here, wys my wat kyk ek mis".

Of sou ek soos Simone Weil myself wil herinner: "om my volle aandag te gee aan wat ek om my (nie) sien (nie), is die beste wat ek het om te kan gee"

No comments:

Post a Comment