Showing posts with label bid en werk. Show all posts
Showing posts with label bid en werk. Show all posts

Tuesday, February 15, 2011

Balans: om te bid en te werk

Vandag wonder mense waarom hy so ‘n aangrypende invloed op die mense van sy tyd gehad het.  Hy is reeds 1500 jaar gelede dood, maar dit is veral in die afgelope paar jaar dat daar - veral onder gereformeerde christene, wêreldwyd  - ‘n hernude belangstelling in sy nalatenskap is.  Hy is die skrywer van ‘n klein boekie wat ons vandag sommer in ons spreektaal ken as “The Rule of St. Benedict”, of “Regula Benedicti”.
Ontmoet die Italiaanse monnik, Benediktus.  In die katolieke tradisie beter bekend as “Saint Benedict”.  Een van ‘n tweeling, met sy suster, St Skolastika, die non, wat – net soos haar broer – ‘n groot rol in die kloosterlewe van die christelike kerk gespeel het.
Wat Benediktus so besonder gemaak het, is dat hy in sy leeftyd dit kon regkry om in byna elke Italiaanse dorpie ‘n groep mense bymekaar te kry wat hulself vir God wou afsonder én ‘n verskil aan die omgewing waarbinne hulle leef wou maak.  Dit was die begin van die kloosters in die kerk se geskiedenis. 
Op geen manier het Benediktus so ‘n lewe van “afsondering” verstaan as ‘n terugtrek uit die wêreld nie.  Inteendeel, het hy gereken, hoe meer ‘n mens “soos Christus” word, hoe meer sal jy in die wêreld ‘n verskil maak.  Dit is inderdaad vanuit hierdie kloosters dat die meeste van die leiers van Europa (kerklik en polities) opgevoed is.
Tussen die jare 530 en 560 n.C  skryf Benediktus die REGULA -  handleiding om mense te help om binne hulle alledaagse lewe meer “soos Christus” te leef.  Hy hou hom met een vraag besig:
Hoe leef ‘n mens ‘n lewe, gebou op die beginsels van die evangelie, wat getuig van vrygewigheid (“charity”), nederigheid (“humility”), gebalanseerdheid (“stability”) en toegewydheid (“faithfulness”)?
Die hele REGULA het net een doelwit:  hoe om jou te help om – as ‘n veranderde mens deur die werk van die Heilige Gees, al meer Christusgelyk – lewende getuies te wees van die genade van God.
Geen mens kan net van bid alleen leef nie, het Benediktus die monnike en die nonne geleer.  Geen mens kan net wil werk nie, het Benediktus die mense buite die kloosters geleer.  Daar moet BALANS in ‘n mens se lewe wees tussen bid en werk.  En vandaar kom sy bekende sinnetjie:  ORA ET LABORA.  Bid en werk.  Nie net die een nie.  Nie net die ander een nie.  In gelyke mate, beide!
As jy dus jou REGULA van jou eie lewe ontwerp, is dit wat jy moet onthou:  BALANS.
In moderne taal sal ons van “’n heel mens” praat.  Iemand wat geïntigreerd leef.  Iemand wat nie ‘n onderskeid maak tussen “spiritueel” en “gewoon” nie.  Iemand wat leer prioriseer.  Iemand wat terugtrek na die binnekamer om tyd saam met God te spandeer, maar iemand wat dan opstaan en God in die wêreld gaan soek, daar waar God besig is om die koninkryk te laat kom.