Tuesday, February 22, 2011

REGULA: 'N STOK WAT SLAAN OF MEET?

As jy, soos ek, die afgelope ruk met jou oog op die kalender leef en dink, “die volgende Maandag kom nader en ek is nog nie klaar nie…”, dan is dit nodig dat jy verder lees.

Hierdie nadenke oor jou leefbeginsels is nie iets wat soos ‘n swaard bo jou kop moet hang nie; dis nie iets wat jy moet “klaarkry” nie. Dit is ‘n leeftyd se nadenke waaraan jy nou bloot, bewustelik (of soos die aanhaling laer af op die bladsy lees: “intentionally, creating space for God”), aandag gee. Maar daar lê nog ‘n leeftyd voor waar jy steeds daaraan aandag gaan gee. Want jy bly ‘n mens-in-wording.

Een van die belangrike beginsels in die inoefening van geestelike dissiplines is dat sommige vir ‘n mens makliker voel as ander. Elkeen van ons het ‘n gemaklike, natuurlike neiging om sommige eerder in te oefen as ander. Dit mag wees dat dit ons uitdaging word, om juis op dié te fokus wat ons andersins afskeep. Dit mag ook wees dat jy bloot net nie nou by die “plek” in jou lewe is waar sekere beginsels gemaklik by jou lewe inpas nie.

So mag dit wees dat jy ‘n jong ma met klein kindertjies is en dat jou behoefte na stilte en afsondering is. Verstaan dat dit jou behoefte is, maar verstaan ook dat jy nie nou in daardie fase van jou lewe is waar dit vir jou ‘n “ononderhandelbare” kan word nie. Want jou lewe het nou ‘n ander dinamika, wat ander behoeftes na vore bring.

Die belangrike wat ‘n mens met die REGULA moet onthou is “plooibaarheid”. Dit mag nooit ‘n swart-of-wit beginsel wees wat jou soos ‘n hond-op-jou-hakskeen jaag nie. St Benediktus het probeer om ‘n riglyn te skryf om dit vir die mense juis makliker te maak om saam te leef, nie moeiliker nie.

2 comments:

  1. Die uitdaging vir my is om nie in vroomheid of godsdienstigheid te verval nie. Joga-dissiplines help nogal hiermee: om nie voortdurend te strewe nie, maar toe te laat dat die dissipline van asemhaling jou aan jou liggaamstaal gedagtig maak. Om net te wees in die oomblik, op die plek waar jou liggaam op daardie dag is, nie waar jy hom wil h^e nie. Annelize

    ReplyDelete
  2. Annelize, ek dink een van die "kruise" wat ons in die moderne tyd dra, is om onsself wys te maak dat ons suksesvol moet wees. Ons is so taakgeorienteer dat ons in die proses die vreugde van ontdek en die vreugde van op-reis gaan mis! Karel Schoeman het die pragtige afrikaanse woord vir "mindfulness" uitgedink: "indagtenis".

    ReplyDelete