Monday, February 28, 2011

VAARDIGHEDE VRA OEFEN. EN OEFEN HET TYD NODIG.

‘n Week of wat gelede het ons ‘n bedieningsleiersvergadering by FGK gehad. Een van die vrae wat die groepe moes bespreek, was “Wat weerhou jou daarvan om jou gawes uit te leef?” Die antwoorde wat uit die verskillende groepe gekom het, kan ‘n mens met ‘n enkele woordjie saamvat: “Tyd!”

Ek bly verstom oor mense se belewenis dat TYD hul grootste “vyand” is. Daar is klaarblyklik nie genoeg ure in die dag om oral uit te kom nie, en mense leef daarom met skuldgevoelens. Daar is ‘n algemene gevoel dat die lewe te gejaagd is.

Dan lees ek ‘n pragtige paragraaf in Richard Dahlstrom se “O₂: Breathing New Life into Faith”

Does the marathon runner have time to ingest water along the route? Does the hiker have time to check the map and compass? Does the woodcutter have time to sharpen the saw?

Die beginsel is dat ons keuses maak met hoe ons tyd spandeer. Daar gaan nooit méér of minder ure in ‘n dag wees nie. En dit impliseer dat daar sekere tye van die dag moet wees wat opgesy gesit moet word, sodat ek my lewenskaart kan bestudeer ... net om seker te maak dat ek nog op koers is.

En dalk is dit wat die REGULA IS: die kaart wat koers aandui.
Natuurlik mag dit wees dat jy, ná ‘n maand, sê, “dit werk nie vir my nie”. Die een ding waaraan jy jouself kan troos, is dat die probleem nie die geloofsdissipline is nie. Hierdie geloofsdissipline (REGULA) is deur die eeue “bewys” as die metode waardeur mense die ritmes van hul lewens kon bestuur. As dit dan nie die REGULA is nie, wat kan jou dan wil laat handdoek ingooi?

Dalk is jy te haastig en verwag jy te vinnig “resultate”? Dalk is jou idée van “resultate” te suksesgedrewe? Dalk is jou doelwitte wat jy vir jouself gestel het onrealisties? Dalk glip jy te vinnig terug in ou patrone en wyk jou motivering? Dalk sug jy bloot met ‘n “ek weet nie hoe nie”?

Dit laat my dink aan my sus se 18 maande oue seuntjie wat deesdae met sy eie lepeltjie sy eie kos probeer eet. Elke tweede happie val terug in die bord; meer kos word rondgeskuif as wat op die lepel self beland; sy hand- en mondkoördinasie is nog nie goed ingeoefen nie. En soos wat ek menswees ken, gaan ons familie oor ‘n jaar of drie vergeet dat hy so gesukkel het, want dan gaan hy net so vaardig soos ons sy vleis sny, sonder mors die kos in sy mond kry en later selfs vra vir nóg.

Dis hoe oefeninge werk!

Maar dit vra tyd.

2 comments:

  1. Oor die tyd ding - die chronos-probleem: Vir my is die grootste uitdaging dat ek nie in beheer is van my lewe (en daarom ook nie van my tyd)nie. Daar is eenvoudig te veel stemme, mense, dinge, gebeure, verwagtinge wat 'beheer' oor my lewe oor-neem.
    Natuurlik is dit 'n denkfout om te dink dat hierdie stemme, mense, dinge...beheer gevat het. Ek het die beheer/mag vir hulle gegee. Dit is oor hierdie oorgawe van beheer oor my lewe/tyd waaroor ek tans worstel...Wat maak dat ek so maklik die afstandbeheerde marionet word. 'n Kort antwoord in my geval: My ego! Ek probeer 'pleasing' wees en uiteindelik raak ek 'unpleasant' as mens want ek is gejaag, uit voeling met myself, afwesig al is ek teenwoordig, besig met dinge wat die roof plaas van bevorder...

    Dankie dat ek my eie worsteling ook hier so kan neer plak. Ek moes dit erens erken het.

    ReplyDelete
  2. Pieter, ek wens so ons gereformeerdes het nie die baba met die badwater tydens die reformasie uitgegooi nie. Want kan jy dink hoe waardevol "die bieg" (belydenis) is, as 'n mens teenoor mekaar kan vertel hoe jy worstel oor iets.

    In my geval kla ek altyd by jou dat my erge geindividualiseerdheid maak dat gesprekke oor "diens" en "community" net kantoorgesprekke is ... as 'n enkelling is 'n alleenlewe (met stilte en afsondering) vir my so natuurlik. Maar die moeilikste vir my is om my lewe oop te stel vir "die vreemdeling".

    En nou wonder ek, is dit nie maar op die ou end ook "ego" nie!

    (Net terloops, die waarde van so 'n openbare bieg is natuurlik dat almal jou nou kan probeer help met jou "unpleasantries" ...of noem dit dan maar swakgewoontes. Nou is ons mede-verantwoordelik vir jou, want nou WEET ons waarmee jy sukkel...

    ReplyDelete