Friday, March 4, 2011

REGULA ... afgehandel of net die begin?

Komende Maandagaand, 7 Maart, met ons tweede FORMATIO-geleentheid sluit ons met die eerste dissipline af: Die nadenke, ‘n maandlank, oor ‘n REGULA vr die lewe. Nee, spirituele dissiplines is nie iets wat jy as “afgehandel” kan beskou nie. Met ander woorde, dat ons met ‘n tweede groep dissiplines in ‘n tweede maand gaan begin, beteken nie dat ‘n “regmerkie” gemaak kan word by die eerste een nie. Nou begin die regte inoefening daarvan eers. Van nou af gaan jy blootstelling aan splinternuwe geloofsgewoontes kry (sommige waarvan jy dalk nog nooit gehoor het nie) ... dit mag dalk wees dat jy so geïnspireer raak deur hierdie nuwe geloofsoefeninge, dat jy dit selfs in jou REGULA wil invoeg. Weet dus sommer nou al: ‘n REGULA is nooit regtig klaar nie. Dit word – lewenslank – bedink.

***********************

Maandagaand begin ons met die inleidingsgesprek oor die geloofsdissiplines wat ons tydens Lydenstyd gaan inoefen. Woensdag (9 Maart) begin – wêreldwyd – die volgende periode in ons kerklike jaar met “Aswoensdag” (meer daaroor Maandagaand). Dit gaan dus dissiplines wees wat jou gaan help om jou voor te berei vir Pase. Maar ons kan nie sommer net so wegstap van ons REGULA’S af nie ... daarom word die aand in twee gedeel (elke geleentheid sal die formaat hê). Ons eet half 7 saam (en die spyskaart klink opwindend, net terloops) ... vir ‘n hele uur het ons rustige tyd om rondom die tafels oor ons REGULA’S te gesels. Wat was die dinge waarmee jy gesukkel het? Hoe het jy te werk gegaan om jou REGULA te ontwerp? Watter vrae het in jou gemoed ontstaan toe jy die leefbeginsels vir jouself moes opstel?

Die doel van ons eetgesprek is dus nie primêr ‘n sosiale kuier nie, maar wel ‘n poging om ons vorige maand se dissipline te help afsluit, sodat ons met die volgende een kan begin.

Na die aandete, gaan ons weer ‘n kort liturgie doen (weereens ‘n praktiese oefening), en dan het ons ‘n uur waarbinne ons ‘n inleidingsgesprek kan hê oor ons volgende dissiplines en genoeg tyd om nog ‘n handvol vrae ook te beantwoord.

No comments:

Post a Comment