Friday, March 8, 2013

NADENKE AS 'N GELOOFSGEWOONTE

Dit is toe nie Die Heilige Ignatius van Lyola se woorde nie.  Nou toe nou.  Dis toe al die tyd Sokrates se wysheid.  Of was dit nou Plato wat Sokrates se wysheid aangehaal het...  En toe later Ignatius wat Sokrates (of Plato) aangehaal het...  Ek besef net, mag dit 'n wysheid word wat so ingeoefen word in my eie lewe, dat dit "my" wysheid word.  "'n Lewe wat nie in nadenke geleef word nie, is nie die moeite werd om geleef te word nie".

Daar is verskeie variasies op hierdie tema... "Die mens wat die verlede vergeet, is gedoem om die verlede te herhaal". 

Ek kan begryp waarom Ignatius sy mede-geloofsreisigers aangemoedig het om hulle lewens te bedink.  Hoe sal 'n mens God in die lewe raaksien, as jy nie God-in-jou-lewe bedink nie?  As ek die Bybel reg verstaan, lyk dit asof Jesus juis mense wou herinner dat die Godheid op ander plekke sigbaar gaan wees as waar ons dit vanselfsprekend sou verwag (gaan lees maar Matt 25).  Ek begryp ook waarom die Psalmdigter bid, "weerhou my van 'n nuttelose lewe; laat my leef op die weg wat U aanwys" (Ps 119:37).  Dan moet ek myself tog afvra, hoe gaan ek weet of my lewe geleef word "op die weg wat U aanwys"; as ek "Die Weg" nie bedink nie?

Woorde soos "peins" ... "bedink" ... "mediteer" ... is selde in die woordeskat van haastige mense!  "Stilword" en "tot bedaring kom" is selde 'n aktiwiteit hoog op die aktiwiteitslys van besige mense.   Ek besef skielik hoe belangrik die woord "onthou" in die Bybel is.  As jy "terugdink" gaan jy kan "onthou". "Terugdink" en "nuutdink" is waarskynlik in Bybelse terme sinonieme.  'n Terugblik gee nuwe perspektief.

Daar is beslis ook 'n verskil tussen "nadenke" en "verknogtheid".  Ignatius (en sekerlik Sokrates ook) sou daarmee saamstem.  Nadenke vir Ignatius was nie om vas te hou aan die verlede nie.  Nadenke, as 'n geloofsgewoonte, is om die verlede te bedink as 'n sleutel om vandag anders te kan leef.

Daar is nog 3 weke oor voor Pase.  Hierdie 3 weke is vir my "nadink"-tyd.  In hierdie 3 weke wil ek 3 vrae inoefen:  die "Gods-vraag" (waar sien ek God in my lewe?); die "Self"-vraag (hoe het God my bedoel om te wees?) en die "skeppings-vraag" (waarom is ek nou, op hierdie spesifieke tyd van my lewe, op hierdie spesifieke plek, tussen hierdie spesifieke mense rondom my?)

Lydenstyd is "nadink"-tyd.  Of dit nou Sokrates was wat die wysheid uitgedink het, en of dit Ignatius is wat 'n paar eeue later mense weer daaraan herinner het, dit is om't ewe.  Die vraag is of dit my geloofswysheid gaan word!

No comments:

Post a Comment