Tuesday, February 15, 2011

Balans: om te bid en te werk

Vandag wonder mense waarom hy so ‘n aangrypende invloed op die mense van sy tyd gehad het.  Hy is reeds 1500 jaar gelede dood, maar dit is veral in die afgelope paar jaar dat daar - veral onder gereformeerde christene, wêreldwyd  - ‘n hernude belangstelling in sy nalatenskap is.  Hy is die skrywer van ‘n klein boekie wat ons vandag sommer in ons spreektaal ken as “The Rule of St. Benedict”, of “Regula Benedicti”.
Ontmoet die Italiaanse monnik, Benediktus.  In die katolieke tradisie beter bekend as “Saint Benedict”.  Een van ‘n tweeling, met sy suster, St Skolastika, die non, wat – net soos haar broer – ‘n groot rol in die kloosterlewe van die christelike kerk gespeel het.
Wat Benediktus so besonder gemaak het, is dat hy in sy leeftyd dit kon regkry om in byna elke Italiaanse dorpie ‘n groep mense bymekaar te kry wat hulself vir God wou afsonder én ‘n verskil aan die omgewing waarbinne hulle leef wou maak.  Dit was die begin van die kloosters in die kerk se geskiedenis. 
Op geen manier het Benediktus so ‘n lewe van “afsondering” verstaan as ‘n terugtrek uit die wêreld nie.  Inteendeel, het hy gereken, hoe meer ‘n mens “soos Christus” word, hoe meer sal jy in die wêreld ‘n verskil maak.  Dit is inderdaad vanuit hierdie kloosters dat die meeste van die leiers van Europa (kerklik en polities) opgevoed is.
Tussen die jare 530 en 560 n.C  skryf Benediktus die REGULA -  handleiding om mense te help om binne hulle alledaagse lewe meer “soos Christus” te leef.  Hy hou hom met een vraag besig:
Hoe leef ‘n mens ‘n lewe, gebou op die beginsels van die evangelie, wat getuig van vrygewigheid (“charity”), nederigheid (“humility”), gebalanseerdheid (“stability”) en toegewydheid (“faithfulness”)?
Die hele REGULA het net een doelwit:  hoe om jou te help om – as ‘n veranderde mens deur die werk van die Heilige Gees, al meer Christusgelyk – lewende getuies te wees van die genade van God.
Geen mens kan net van bid alleen leef nie, het Benediktus die monnike en die nonne geleer.  Geen mens kan net wil werk nie, het Benediktus die mense buite die kloosters geleer.  Daar moet BALANS in ‘n mens se lewe wees tussen bid en werk.  En vandaar kom sy bekende sinnetjie:  ORA ET LABORA.  Bid en werk.  Nie net die een nie.  Nie net die ander een nie.  In gelyke mate, beide!
As jy dus jou REGULA van jou eie lewe ontwerp, is dit wat jy moet onthou:  BALANS.
In moderne taal sal ons van “’n heel mens” praat.  Iemand wat geïntigreerd leef.  Iemand wat nie ‘n onderskeid maak tussen “spiritueel” en “gewoon” nie.  Iemand wat leer prioriseer.  Iemand wat terugtrek na die binnekamer om tyd saam met God te spandeer, maar iemand wat dan opstaan en God in die wêreld gaan soek, daar waar God besig is om die koninkryk te laat kom.

7 comments:

  1. Ek wil graag vir my 'n (Kindle) kopie van die Regula aanskaf - maar daar is so 'n klomp ek weet nie watter een nie! Is daar 'n vertaling wat jy (of iemand anders) sal aanbeveel?

    ReplyDelete
  2. Lyn, ek het 'n elektroniese teks gekoop, by name "The Holy Rule of St. Benedict", vertaal deur B. Verheyen; uitgegee in 2010. Ek self het nie geweet watter een om te koop nie, toe het ek bloot die jongste uitgawe gekies, omdat die taal dalk net meer toeganklik is. Dit is nie baie dik nie (maar as mens dink, die oorspronklike een was maar so lank soos ons Matteusevangelie, dan was dit 'n kort manuskrip).

    Daar is een boek wat vir my baie goed gelyk het (kan nie die naam onthou nie, ek weet wel Thomas Moore is 'n medeskrywer), maar dit is nie op Kindle beskikbaar nie. Ek vermoed ons behoort die een by Pauline's Boekwinkel te kry.

    Ek het wel 'n ander boek via Amazon UK bestel wat iemand in Mei vir my sal saambring met 'n kuier. Sal dan vir jou wys. Die boek se naam is "Dharma and St Benedict". Hopeloos te duur om in SA te koop, daarom "voer" ek nou vir my een in.

    ReplyDelete
  3. Ek is ook op die blog - van Richardsbaai.
    Hou van die blog!!!
    Voel nog baie onseker omdat ek ook voel al die inligting is nog nie ingewin is nie. Die beginsels maak baie sin!
    Is ook besig om veral vas te stel waar, wanneer, hoe en hoekom, ek 'naby' aan God voel. En dan ook wat dit breek - wanneer ek nie naby aan die Here voel nie.

    ReplyDelete
  4. Christo, hallo - lekker om van jou te hoor. Ek dink een van die belangrike dinge is dat ons nooit 'n REGULA voltooid kan he nie. Dis altyd in wording.

    Werk met die inligting wat jy NOU het ...

    Iemand vra vanoggend vir my of sy nie eers St Benedictus se "Regula" moet lees voor sy haar eie skryf nie. Nee glad nie!! Dit was St Benedict s'n. Vraag is, wat is myne?

    Sterkte met die stoeiproses...

    ReplyDelete
  5. Soos ek my regula bedink, kom ek agter dat baie van dit wat uiteindelik deel daarvan sal wees, wel reeds deel van my lewe is. Wel, in beginsel deel van my lewe is. Byvoorbeeld: hê respek vir die aarde (in die praktyk oorgesit: herwin, wees spaarsaam met skaars bronne, waarvan sommige bowendien besoedeling ten grondslag het, let op na die voetspoor van dit wat jy verbruik), lewe met matigheid, hê deernis, wees mededeelsaam, ens ens. Waaraan ek wel moet werk is die spesifiek spirituele deel, die "aktief" stilword voor God, as julle my die teenspreking sal verskoon. Maar nou, as ek reeds my eie regula oor soveel veronderstelde goeie gewoontes het, hoewel ek hom nooit as sulks bedink het nie, wat gaan nou anders wees? Twee dinge, hopelik. Die een is dat ek dit met groter erns sal bejeën (in mooi sekulre taal gestel, minder slapgat sal wees daarmee): meer dikwels die groente uit Kenia in Woolies sal omruil vir die losgroenterak(as ek onthou om te kyk), werk aan my ongeduld met die karwag wat nie daar was toe ek geparkeer het nie en nou flink naderstaan vir sy R5... en dalk, net dalk, Ronell na te volg en 'n stuk grasperk vir 'n groentetuin te verruil, want dit alles is deel van my regula waaraan ek bewustelik moet werk, waaroor ek my moet verantwoord.. Maar tweedens, en belangriker:wat bloot sekulre gewoontes was, wat ent nagekom is wanneer dit my behaag het, word nou na 'n anderraamwerk verskuif, na my spiritueel-religieuse raamwerk, waar ek ook hierdie dinge doen omdat dit binne my verhouding met God gedoen word.

    ReplyDelete
  6. Liewe-liewe Anne-Marie, en hier "bedien" jy ons met jou regula. Vir my ten minste!

    Wat St Benedikt regkry is om ons bloot oor ons lewens te laat nadink. Want inderdaad, elkeen van ons het reeds ons eie "reels"/riglyne waarvolgens ons leef. Die feit dat niemand van ons sonder tandeborsel by die deur soggens uitstap nie, wys dat ons met bepaalde beginsels leef.

    Maar, dalk is die riglyn om "bewustelik" met die leefbeginsels te begin leef: hoe doen ek, wat ek ook al doen, op so 'n wyse dat dit 'n weerspieeling is van my keuses wat ek maak om as 'n gelowige te leef? (Vandaar die bewustelike keuse om liefs die ingevoerde granaat te laat en die soveelste bosse plaaslike wortels te koop. Nie omdat dit lekkerder is as die granaat nie, maar omdat daar erens iemand is wat deur ons ondersteuning 'n lewe kan maak?)

    ReplyDelete
  7. Ek wens nou hier was 'n "laaik" knoppie soos op Facebook! Dankie, van my ook Anne-Marie, jy help my met perspektief.

    ReplyDelete