Monday, July 18, 2011

'n Reisgenoot van stilte

Ons het lanklaas gesels! My hoop is dat dit met jou goed gaan...veral wat die formatio-reis betref. Dit was ietwat van 'n hibberneer tyd vir my die afgelope drie weke en dit nie net oor die koue nie. Hoewel ons gesels meer grens aan 'n monoloog voer, help die dwang-skryf my op die reis en om erns daarmee te maak.

Na 'n ope belydenis teenoor twee vriende oor my soeke na stilte en die worsteling om by tye/plekke van stilte kom, kry ek twee dae later 'n e-pos met 'n uitnodiging: "Ek wil vandag erens vir 'n uur in stilte deur Emmarentia park gaan stap. Jy's welkom om my te join! Enige tyd voor 16:00 sal goed wees. Laat weet. Shalom! Tom" Ek en Tom het tydens die etensuur in stilte deur Emmarentia gaan stap en daar is genoeg vista's vir gebed, meditasie, stilte of net wees. By die halpad-draai gaan sit ons simbolies by 'n bankie oorkant die Wes-park begrafplaas. Die verkeer druis onophoudelik tussen die dood en die stilte.

Die ontdekking in Spreuke kom weer by my op: Wysheid staan op die hoek van die markplein en roep! Ek soek haar soveel keer net in die ontvlugting.
Terwyl 'n paar Indian Mina's my oog vang, reflekteer ek oor hoe ek soos hulle maar geneig is om aan te pas by my omgewing en my omgewing se seisoene, dieet en gewoontes. Soms hoop ek om meer die kultuur van ons tyd te be├»nvloed as wat ek daardeur gevorm word, maar my oortuigings fladder meestal in my kop. In hierdie middag-uur-dwaal tussen die stilte, die gedruis en die dood vang iets my oog. 'n Spierwit duif vladder speels tot hier reg voor ons twee se swygmoment en ek besef alles sal okay wees...tussen die stilte, die gedruis, die dood en my vreemdelingskap.

Ons stap terug en gesels die laaste vyf minute voor ons groet. Met my omdraai waai vir Tom troon die Hillbrow toring aan die een kant bo my opelug tempel uit, 'n entjie links herken ek Sandton se ontbloting en die SAUK toring vul die leegte aan die regterkant. Ek dink hardop wanneer ek in die Landy klim, "Stilte in die stad is 'n middagete-uur ver." Wanneer Tom by die hek verby my ry besef ek hardop "Nee, stilte is 'n reisgenoot van stilte ver."

My aanvoeling met die dissiplines en die soeke na die kontemplatiewe leefstyl is eenvoudig die wysheid van 'n afrika gesegde: "As jy vinnig wil reis, reis alleen. As jy ver wil reis, reis saam."
Jy kan ook nie hierdie reis alleen aanpak nie.

No comments:

Post a Comment