Monday, July 25, 2011

Skuif jou lyf!

Die tema klink dalk 'n bietjie te veel na 'n potensïele Afrikaanse-treffer, laat ek dus dadelik verduidelik: Ek het vanoggend, met nét my rekenaar, geskuif na ‘n kantoor wat son kry. My kantoor sien geen son-vitamiene nie en my groen-geaardheid verhinder my om die lugversorging te gebruik. Hierdie koelte oorskadu later meer as net my lyf en ‘n verwinterde siel groei net in kilheid. Soms moet jy jou lyf skuif voor daar hoegenaamd in jou binneste ‘n verandering kan plaasvind. Twee dae se besoek aan die middestad vir gesprekke oor armoede het my ook met lyf-skuif gekonfronteer. Dit het my laat wonder oor myself en waar ek op die formatio-reis is:

Ek is baie lief vir lees en blaai deur ‘n verskeidenheid van boeke soos reisgidse, (groente)tuin-maak, volhoubare leefstyl, ekologie, sosiale omstandighede in Suid-Afrika en natuurlik ook teologie/spiritualiteit. Hierdie lees en blaai, spoel natuurlik later oor na die biblioteek van die internet met sy eindlose informasie (soms baie oppervlakkig). Uit al hierdie versamelde inligting vloei daar natuurlik heerlike gesprekke met verskillende mense wat ek regtig stimulerend vind.

Tog ontdek ek al meer dat daar ‘n Visrivier Canyon bestaan tussen abstrakte denke, argumente en oortuigings aan die een kant, en hoe ek leef of wat ek doen aan die anderkant. Vir groente om te groei - moet jy saad en jou hande in die grond kry! Om plekke te ervaar, kan jy nie ander se foto’s kyk nie -  jy moet self daar uitkom! Ek kan nie die armes verstaan deur ‘n akademiese argument daaroor te lees nie, ek moet hulle leer ken. Ek gaan nie groener word deur ‘n stapel boeke oor ekologie te lees nie. Ek sal dus my lyf moet skuif! Informasie is dalk verder van formasie as wat ons dink!

My huidige bekering is dus ‘n beweeg vanuit ‘n selfgemaakte wêreld, kom ons noem dit ‘n idée-wêreld. Weg van abstrakte na konkrete...en die enigste manier is deur my lyf op die plekke te kry waar my gedagtes dikwels heen dwaal. Die informasie-era waarin en die intellektuele verwagtinge waarmee ons leef maak dit nie maklik nie!

Dieselfde gebeur met my op die formatio-reis: Ek kan die dissiplines belees, bedink en bepraat. Dit is baie stimulerend! Soms beoefen ek dit selfs, maar te sporadies. Tog hoop ek om minder idealisties oor die kontemplatiewe leefstyl te dink/praat en dit baie eenvoudiger te leef. Dalk het jy ook nodig om klein, eenvoudige - maar gereelde - treë saam met my te gee. Wat is die volgende tree wat jy moet gee op die formatio-reis?

No comments:

Post a Comment