Tuesday, March 15, 2011

STILTE ... AFSONDERING ... SABBAT

Ek het 'n "shut down”-ervaring gehad. Nee, nie met die FORMATIO-blog nie ... alhoewel daar 'n week se kuberstilte was. Ek kon my daaraan troos dat ons immers met "stilte" doenig is, daarom het ek wel nie 'n groot dringendheid gevoel om te skryf nie.

Dit was beslis iets anders. Asof iets my gedwing het om nie te skryf nie. Laat die woorde nie te vinnig neergeskryf word nie. Asof ek die waarskuwing van Paulus wou ernstig opneem dat woorde soos “klinkende simbale” kan raak. Groteske klankversteuring. Ek is ruim bewus daarvan dat ek te besig is. Ek loop in die gange in die kantoor en vang myself dat ek onnodig praat. Net niks van die FORMATIO se tweede geloofsgewoontes van stilte, afsondering en sabbatsviering wil in my hart (of mond) kom nesmaak nie.

Maar die “shut down” kom toe uit ‘n heel ander rigting: Vrydagnag word ek wakker met ‘n gevoel dat my longe “styf” voel. Saterdag is ek bewus van al strammer asemhaling. Sondag weet ek, ek wag more-oggend my dokter op sy stoeptrappies in. Iets is fout! Infeksie in my longe! Met ‘n stem wat protesteer om te praat. Asem wat nie gewillig suurstof wil intrek nie.

En so word ek gedwing om tot stilstand te kom. My stem te laat rus. My sabbat-in-my-bed. En vir die eerste keer neem ek Richard Dahlstrom se notas. Hierdie keer is ek nie “aanbieder” nie, nou is ek “deelnemer”.

Die heel eerste aanhaling by hoofstuk 9 (“Solitude”) lees ek oor en oor. My geliefde Thomas Merton aan die woord:

There should be at least a room, or some corner where no one will find you and disturb you. You should be able to untether yourself from the world and set yourself free, loosing all the fine strings and strands of tension that bind you by sight, by sound, by thought, to the presence of other men.
Once you have found such a place, be content with it, and do not be disturbed if a good reason takes you out of it. Love it, and return to it as soon as you can, and do not be too quick to change it for another”.
Ek skakel my selfoon af ... internet ... rekenaar ... radio ... televisie. Kom tot bedaring. En tussen-in bedink ek Lukas 13:10-17. Die teks vir komende Sondag se prediking: die gedeelte van die vrou wat 18 jaar lank die wêreld met haar kop skuins gedraai moet aankyk. Die krom vrou wat op die Sabbatdag genees word. En ek wonder wat maak ons gebukkend? Wat maak dat ons die wêreld, en ons lewe, nie voluit in die oë kan kyk nie, omdat ons kromgedraai is? Soos Merton dit stel: “fine strings and strands of tension that bind you by sight, by sound, by thought to the presence of other people”.

 
Ek wonder dit oor jou ook wat hier lees: wat maak dat jy dalk steeds nie tot bedaring kan kom nie? Nie kan regkop kom nie? Vasgevang is in die gewoonte van sleurgang?

Maar ek hoef nie te praat daaroor nie. Jou eie hart se woorde sal die praatwerk vir jou doen.

As jy net stilword. En begin luister.

No comments:

Post a Comment