Tuesday, March 22, 2011

VERSLAAF AAN OPWINDING ... BANG VIR VERVELING

Die vroeë kerk (100 – 400 nC) het ‘n besige lewe as ‘n sekulêre lewe beskou. 
Die 21ste eeu se mense beskou ‘n besige lewe as ‘n produktiewe lewe.
Die vroeë kerk het iemand wat te besig was, beskou as iemand wat van God af vlug.
Die 21ste eeu se mense beskou verveeldheid as iets waarvan hulle moet vlug.
 Ek is ‘n “doen”-mens!  Moenie my langer laat wag as wat billik is nie, dan sal ek jou vinnig laat verstaan dat jy my eintlik verontrief.  My liggaamstaal sal vinnig vir jou wys dat ek gesteur voel:  ‘n bewegende voet; ‘n trillende hand; ‘n oog wat elke nou en dan na die horlosie draai; kakebeen wat geïrriteerd vasgeklem is.  As ek voorberei is op die wag, dan is dit nog onder beheer (...dan het ek “gewapen” gekom met ‘n boek of ipod), maar as dit ‘n wag is wat op my afgedwing word, dan sal ek vinnig protesteer. 
Om die wag in ‘n ry minder spannend te maak, bring besighede televisieskerms – ooghoogte – aan, en staar mense na ad nausea herhalende advertensies.  Om die sieldodendheid van die fietstrap in die gimnasium te versag, staar jy na bewegende monde van nuuslesers op klanklose nuuskanale, met onderstroke wat vir jou die jongste dollar/pond/yen se waarde aandui. 
Alles om ons gedagtes met “die volheid van niks” te vul!
Hieroor het Blaise Pascal (17de eeu) reeds baie te sê gehad:  “Die grootste enkele oorsaak vir mense se ongelukkigheid is dat hulle nie weet hoe om in hul kamer stil te raak nie”.
Waarom sou Pascal ons onvermoë om stil te raak as die enkele rede van ongelukkigheid beskou?  Stilte en afsondering dwing jou om na die werklikheid te kyk soos wat dit is.  Stilte/afsondering dwing jou om na jou lewe te kyk soos wat God na dit kyk. 
So skryf Gary Thomas in “Seeking the face of God”:  “Cultivating the quiet is a painful experience when we are addicted to noise, excitement, and occupation.  Opening the door to spiritual quiet can also open the door to spiritual fear and loneliness.  It takes a great amount of courage to face God”.
Dis ‘n verstommende gedagte wat ‘n mens in jou kop moet laat rypwerk:  is my besigwees ‘n ontvlugting van God?  
Dis nie dat jy nooit by God tyd deurbring nie.  Dis net dat dit so na “niks doen” voel nie!  Het jy al ooit gewonder hoe lank jy by God sal kan sit, voordat jy kriewelrig raak?   Ek wonder wat Moses gedink het, toe hy die opdrag kry om God op die berg te ontmoet in Eksodus 24.  “Klim nou die berg verder uit na My toe en vertoef daar dat Ek vir jou die plat klippe kan gee waarop Ek die wette en gebooie neergeskryf het vir die onderrig van die volk”.  Terwyl Moses die berg uitklim, het ‘n wolk dit omhul.  Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul.  Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep.
Ses dae se sit!  My voet sou teen daardie tyd al ‘n spasma van al die op-en-af-irritasie gehad het... Ses dae se sit! My ipod se batterye sou pap gewees het...  Ses dae se sit!  My frustrasievlak sou so hoog gewees het “omdat my tyd so gemors word”...  Ses dae se sit! My taakgeöriënteerdheid sou my lankal laat opstaan het met ‘n “nou wag ek nie ‘n minuut langer nie”.
Ses dae se sit!  Geduldig!  Afwagtend!  Luisterend!  Biddend!  Wetend dat God met my wil praat.  Wat wel op die sewende dag toe tog gebeur!

No comments:

Post a Comment