Friday, March 18, 2011

DIE VERSKIL TUSSEN STILTE AS PRIVAATHEID EN STILTE AS SOEKE NA GOD SE STEM

Om te sê dat ons in ‘n wêreld met oormaat klank leef,klink so afgesaag soos om te sê dat ons in ‘n gejaagde wêreld leef.  Ons wéét dit!  Nie via boeke nie, wel uit ervaring.
Die bedoeling van die inoefening van geloofsdissiplines is juis om ons te help om uit maalkolke (soms selfgeskep, kom ons erken dit ook!) te kom en “heel” te leef. Soos dit God se bedoeling met ons oorspronklik is. Die maalkolk van die moderne mens kan natuurlik baie oorsake hê:  die wringkrag van selfgesentreerdheid wat ons soms nie eers bevraagteken nie; die leuen wat ons glo dat ‘n besige lewe ‘n “ryk” lewe impliseer; rasionalisering waarom die soeke na geregtigheid nie ‘n prioriteit hoef te wees nie.  So sou ek kon aangaan (...want die voorbeelde uit my eie lewe is legio).
Min mense wat ek teëkom (- en dit sluit myself in-) spreek nie ‘n behoefte na ‘n eenvoudiger, kalmer, stiller lewe uit nie. Die fantasie van ‘n bietjie afskaal, nader aan die natuur te leef, meer te kuier met mense wat vir jou belangrik is ... elkeen van ons troetel so ‘n ontvlugtingsfantasie....
Die probleem is dat die dissipline van stilte/afsondering/sabbatsrus inderdaad nie hieroor gaan nie.  Hierdie ontdekking maak ek in die afgelope paar dae al meer!!  Die geloofsdissipline van “tot bedaring kom” het nie te make met ‘n diep behoefte aan ‘n bietjie “persoonlike ruimte” nie.  Ons het inderdaad almal behoefte aan hierdie Ruimte vir die Self!  Maar dit is nie die fokus van hierdie maand se geestelike inoefening van ‘n stilraak nie!   Want jy kan jou lewe afskaal, jy kan inderdaad jou ruimtes van afsondering skep, ‘n dag in jou week uitsit as “jou tyd” ... sonder om in die proses die “dissipline van stilte te beoefen”.
Daar is ‘n groot verskil aan “stil raak” ... omdat die wêreld jou moeg maak, teenoor “stilraak” omdat jy God se stem weer wil leer ken.
En dít is waaroor hierdie dissipline gaan:  die ontdekking dat God steeds praat ... dat God ‘n bepaalde manier van doen het ... dat God se wil steeds herkenbaar is ... dat God steeds betrokke is in die wêreld.
Jou behoefte aan stilte/afsondering kan dus bloot ‘n private - en steeds selfgesentreerde behoefte -wees.  Jy mag inderdaad dalk afskaal, selfs fisies versterk voel (of selfs ‘n ondeurdringbaarder lagie teen die “pyle” van die moderne lewe aanleer), sonder dat jy leer hoe klink God se stem.
En dis waaroor hierdie maand se inoefening van hierdie karaktervorming gaan:  mense wat luister na God.
************************
Die vraag natuurlik is ook, hoe “klink” God se stem?  Julie Claassens (professor in Ou Testament, Stellenbosch Univ) skryf in ‘n lieflike boek, “’n Groter God:  Nuut gedink oor die Een wat ons telkens verras” ‘n paragraaf oor die ... noem dit maar ... “ewolusie” van God in die Bybel.  Aanvanklik is God se “stem” (teenwoordigheid) ‘n baie Sigbare Onmisbare:  God “praat” met Moses vanuit ‘n brandende bos; God en Moses sit op die berg ... God dikteer ... Moses skryf neer.  Geen onsekerheid oor God se stem nie.  God is self aan die woord.  Of sigbaar in natuurtekens:  die wolkkolom snags wat die volk lei deur die woestyn; snags ‘n wolk wat lyk soos ‘n vuur.
Dis opmerklik dat die duidelike praat van God, hoe meer die storie van Israel ontvou, al hoe minder duidelik en direk is.  Eers was dit in magtige natuurverskynsels.  Elia is die een wat in 1 Kon 19 ‘n nuwe manier van God se “praat” ontdek:  nie meer aardbewings en stormwinde nie.  Inteendeel, in die suutjieswaai van die wind.
Eers is die enigste manier van kommunikasie met God in die tempel (en veral die teenwoordigheid van die ark) ... maar hoe gemaak as die tempel vernietig word, en die ark verdwyn?  Nou praat God nie meer deur “dinge” nie ... skielik raak mense God se stem:  profete.  Nou is dit nie meer die “stem” vanuit ‘n brandende bos nie ... nou is dit ‘n “so sê die Here”, en gewoonlik kom die woorde uit die mond van ‘n baie ongerespekteerde profeet.
Kom ‘n mens by die laaste boeke van die Ou Testament (... en waarskynlik is dit die boek van Ester) is God glad nie eers meer “teenwoordig” in die boek nie.  Geen enkele keer praat God in die boek nie.  Nou hang die oorlewing van haar mense af “van háar vermoë om ‘n stem vir die stemloses te wees” (Claassens, 117).
Kom ‘n mens in die Nuwe Testament gebeur die “ontstellende”:  die “stem” van God word stilgemaak ... gekruisig.  Die Een wat die “Woord” is (Joh 1) se stem is te ontstellend vir die regeerders van die dag ... so Hy word uit die weg geruim.
Die storie van die kerk is mense wat die opgetekende Stem ken ... wat glo dat die Stem steeds praat ... hierdie keer nie meer in die “groot” goed nie, maar wel daar waar ‘n ou klein groepie(tjie) bymekaar kom ... 2 of 3.  Geen indrukwekkendheid nie.  Geen buldering uit die hemel.  Soms selfs so onindrukwekkend as waar net een “in sy binnekamer” is.  Glad nie die “uitspattigheid” van majestieuse kragte nie.
In die stilte...

(Julie Claassens se boek is uitgegee deur Lux Verbi BM)

No comments:

Post a Comment