In 'n lieflike boek van Brian McLaren, "Finding our way again: The return of the ancient practices", skryf hy
"The Ancient Way is about joining God in the spending of every day".
Bloot dit! Niks meer nie. Niks minder nie.
Om die ruimte wat God in jou lewe inneem al meer te vergroot, gaan nie oor 'n "godsdienstiger" lewe nie. Dit gaan bloot oor 'n mens wat al intenser leer om die lewe ten volle te leef. Geloofsdissiplines help jou om die lewe wat "in oorvloed" aan jou gegee is (Joh 10), in oorvloed te leef. Oorvloed vir 'n 21ste eeuse gesekulariseerde mens het gewis 'n heel ander betekenis as wat oorvloed vir die vroee Christendom gehad het. Oorvloed sal ons selde meet aan die maatstaf van "al intiemer met God". En tog is dit Jesus se bedoeling. Om 'n lewe te kan leef, al nader aan God.
Een van die mooiste gebede wat ek ooit teegekom het, kom uit die mond van vroeg 8ste eeuse Sufi mistikus, 'n vrou met die naam van Rabi'a al Adawiya. Elke keer as ek hierdie gebed lees, weet ek, dis hoe oorvloed verstaan moet word. Ek glo dat dit selfs die enigste gebed is wat iemand hoef te bid wat doelbewus en doelgerig geloofsgewoontes wil inoefen om groter en meer ruimte vir die Goddelike in hul lewe te wil maak. Nie meer van enige iets anders behalwe die "sug" na God.
"As ek U lief het uit vrees vir die hel, weerhou my dan nie van die hel...
As ek U lief het uit hoop vir die paradys, weerhou my die paradys...
As ek U lief het ter wille van U self, weerhou dan tog nie U ewige skoonheid van my nie".
As ek God leer ken, met geen ander motief as God self nie ... as ek meer ruimte maak vir God in my lewe, met geen ander verwagting as dat God se teenwoordigheid groter word nie ... as ek geloofsgewoontes wil inoefen, met geen ander verwagting as om meer van God in die alledaagse te ervaar nie ... dan ... alleen dan ... begin die "oorvloed van die lewe" sin maak.