Wednesday, February 20, 2013

Om te word wat jy bedoel is om te wees

Waarmee ons ons besig-hou bepaal grootliks wie ons is, of wie ons ook al meer word.   Een van die wysste woorde het ek by ‘n ouer kollega geleer het:   die mens wat jy in jou middeljare is, daardie selfde mens gaan jy wees as jy bejaard is ... net erger!”
Dit is wat ons gewoontes aan ons doen.  Dit maak ons nog meer hoe ons is omdat die gewoonte ons in ‘n patroon ingeoefen het om te wees wat ons vroeër reeds was.  Juis daarom is dit wys om ‘n lewensplan te bedink waarvolgens jy, doelgerig en bewustelik, struktuur aan jou lewe wil gee.  ‘n Plan om jou ou gewoontes (jou “ekkigheid”) voortdurend en in eerlikheid te ontmasker, sodat jy al meer kan word wie jy oorspronklik bedoel is om te wees:  die beeld van God. 
Die vraag waaroor jou eie lewensraamwerk jou mee moet konfronteer, is:  watter tipe mens wil jy wees en wat moet in jou ontwikkel word om by daardie mens uit te kom?  Watter ondersteuning het jy nodig om daardie mens te kan word?  
Vra jouself 3 vrae af:
           “Waar jy nou is” (hoe lyk jou huidige lewensomstandighede? Wat eis alles daagliks jou tyd/aandag?  Wat is jou sterk- en swakpunte?   Is daar “donker kolle”, of ongebalanseerde plekke wat vir jou uitstaan, wat jy graag anders sou wou hê?  Gesels met iemand sodat jy ander se opinies oor jou ook in ag kan neem).
           Waar wil jy graag wees?”  (Hier kan jy droom oor jou lewe.  As jy deel van ‘n gesin is, kan julle selfs ‘n gesinsplan bedink.  Wat sou julle graag saam wou doen?  Hoe sou jou/julle waardesisteem moet lyk?  Watter kenmerke sal jy/julle graag aan geken wil wees?  Onthou weereens, dit gaan oor jou “hele lewe”, nie die gekompartimenteerde lewe nie.)
           “Wie kan jou help”?  (Wie kan jy vra om mede-verantwoordelikheid te aanvaar as jy vir jou ‘n lewensplan opstel?  As jy deel van ‘n gesin is, kan julle mekaar verantwoordelik hou, as jy ‘n enkelpersoon is, moet jy iemand anders kry.  Dit mag iemand wees vir wie hierdie proses net so belangrik is).
‘n Raamwerk vir jou lewe hoef nie langer as een bladsy te wees nie.  
            Soms help dit om jou raamwerk in drie kolomme te deel:  Daagliks, Weekliks, Maandeliks. Dit help jou om die ritmes van jou lewe te bedink.
Wees so prakties moontlik.  Daar is geen rede waarom jy nie “groot” kan droom nie; maar dan moet jy weet wat die stappe is wat jy wil doen om die stappe te bereik. Maar “groot droom” is nie die doelwit nie.  Betroubaarheid en balans is die doelwit.  Wees getrou in die klein dinge, want dit vorm jou om in moeiliker dinge betroubaar te wees. 

8 comments:

  1. Hierdie is toets comment. Dalk is dit wie ek al meer moet wees 'n "toetser"

    ReplyDelete
  2. Okay, die toets het gewerk ... maar wat nou van 'n "al meer" kommentaar?

    ReplyDelete
  3. Nou toets ek ook! Hierdie erspektief op Lent en wat ons fokus moet wees gee vir my ook 'n perspektief op wat ons fokus vir 'n regula moet wees:
    Lent is a very appropriate time for each of us to ask ourselves, “How is God working out his purposes in my life? How do I cooperate with God in this? And how am I blocking or thwarting God’s purposes?” When we stop to consider our spiritual lives, and take stock, as we traditionally do in Lent, it is better, I think, not to focus on ourselves but on God.
    – Br. Geoffrey Tristram
    Society of Saint John the Evangelist

    ReplyDelete
  4. Lyn, jip, jou toets werk ook.

    Dankie hiervoor, ek gaan die aanhaling bere. Ek dink dit is waarmee 'n regula 'n mens aanvanklik mee konfronteer: dis 'n hulpmiddel om "voorraad van my lewe" op te neem. Hoe weet ek waarheen ek wil ontwikkel as ek nie regtig diep nadink oor waar ek is nie? En dis seker eers as ek weet waar ek is, en dit kan meet aan waar ek glo ek moet wees, dat ek kan oordeel wat ek nodig het om daar te kom? Die moeilike ding is natuurlik die vraag oor waar ek glo ek moet wees? Dis wat John de Gruchy herinner, laat ons meer mens word, en nie meer geestelik nie. Ons kan so maklik dink 'n regula is om van ons meer "geestelik" te maak, en tog is "groter ruimte vir God" in die alledaagse lewe ingebed, nie in 'n lewe weg van die alledaagse nie.

    ReplyDelete
  5. Nog 'n interessante perspektief - wil nog meer hieroor dink:
    http://www.youtube.com/watch?v=fRZl56N1mYw&feature=youtube_gdata_player

    ReplyDelete
  6. "God wants me to be more Geofrey" ... mooi, ne! Sou myself dan ook moet afvra wat "meer Ronell" is ... en hoe ek "minder Ronell" is as wat k moet wees?

    ReplyDelete
  7. So van die os op die wa ... Ronell, jy het iewers iets gese oor die feit dat om nader aan God te beweeg en meer spiritueel te wees nie "selfverrykend" moet wees nie (of ek dink dis wat ek verstaan het).
    Gee jy om, om meer hieroor te se, asseblief?

    ReplyDelete
  8. Die fassinerende les wat ek van die woestyngelowiges (die eerste 4 eeue se christene) ontdek het, is dat hoe meer hulle ruimte vir God en ander gemaak het, hoe minder het die behoefte na hul eie ruimtes geword. Dalk is dit ook wat Thomas van Kempen (14de eeu) bedoel het as hy skryf: "Here, laat my U meer liefhe as myself, en myself ter wille van U". Selfverryking het vir my met 'n blinkvryf van die ego te make ... en ek weet dat hoe groter my ego is, hoe minder ruimte is daar vir ander ... en dus vir God ... en selfs vir liefde vir myself. Want die ego staan in die pad van liefhe.

    Se maar as jy met my verskil?

    ReplyDelete