Wednesday, May 11, 2011

Ikoon: Christ Pantocrator

Ek deel die ontdekking oor die ikoon Christ Pontocrator. Indien jy meer wil lees volg gerus die skakel na
http://en.wikipedia.org/wiki/Christ_Pantocrator waar ek hierdie brokkie geleen het. Soos die tyd dit toelaat stuur ek dalk meer gereeld enige ontdekkings. Hierdie ikoon lê my persoonlik na aan die hart aangesien ek die klooster daar aan die voet van Sinai besoek het en kon deelhê aan 'n Mass (waarvan ek nie 'n woord verstaan het nie en daarom het die prentjies en rituele en kniel-gebede baie beteken). Wat my nog altyd van die ikoon opgeval het is die twee helftes van die gesig wat verskil. Lees hier om die betekenis te verstaan.


Gedagtes waaroor jy dalk kan mediteer/bid/reflekteer terwyl jy na hierdie ikoon kyk, is dalk:· Jesus se Godheid-Mensheid
· Jesus die orator en onderwyser – hoe gewillig is jy om na Hom te luister?
· Hoe leerbaar is jy?




The oldest known icon of Christ Pantocrator, encaustic on panel (Saint Catherine's Monastery, Mount Sinai). The two different facial expressions on either side emphasize Christ's dual nature as fully God and fully human.

The iconic image of Christ Pantocrator was one of the first images of Christ developed in the Early Christian Church and remains a central icon of the Eastern Orthodox Church. In the half-length image, Christ holds the New Testament in his left hand and makes the gesture of teaching or of blessing with his right.

The oldest known surviving example of the icon of Christ Pantocrator was painted in encaustic on panel in the sixth or seventh century, and survived the period of destruction of images during the Iconoclastic disputes that twice racked the Eastern church, 726 to 787 and 814 to 842, by being preserved in the remote desert of the Sinai, in Saint Catherine's Monastery. The gessoed panel, finely painted using a wax medium on a wooden panel, had been coarsely overpainted around the face and hands at some time around the thirteenth century. It was only when the overpainting was cleaned in 1962 that the ancient image was revealed to be a very high quality icon, probably produced in Constantinople. The subtlety, immediacy and realism of the image are immediately apparent when the image is compared to any of the more familiar stiffened and hieratic icons — following the same model — that were painted after iconoclasm had been decisively rejected. Christ here is Christ the Teacher: the gesture of Christ's right hand is not the gesture of blessing, but the orator's gesture; the identical gesture is to be seen in a panel from an ivory diptych of an enthroned vice-prefect, a Rufius Probianus, ca 400, of which Peter Brown remarks, "With his hand he makes the 'orator's gesture' which indicates that he is speaking, or that he has the right to speak."

Wednesday, April 20, 2011

GELOOFSGEWOONTES VIR PASE

‘n Lewe sonder rituele is soos ‘n sonsondergang sonder kleur.  Rituele gaan oor ráák-sien:  om te weet dat daar ‘n besondere waardevolle oomblik is wat – herhaaldelik – gevier moet word.  Omdat die waardevolle nooit vergeet mag word nie, skep ons rituele om ons daaraan te herinner.  Rituele het te make met die viering van ‘n Ritme-van-Bekendheid.  Dit laat die deelnemers aan daardie rituele voel, “hier is ek tuis”.  Die ritueel het net betekenis as jy die groter prentjie van die ritueel leer waardeer. 
‘n Ritueel is meer as maar net ‘n gewoonte.  Dit is inderdaad ‘n gewoonte … maar ‘n gewoonte wat ‘n simboliese betekenis kry.  Dalk maar wat St Benedictus ook vir ons wou leer met sy Regula:  gewoontes wat so ingeoefen word, tot dit later deel van ons lewe is, en nie meer gewoonte is nie, maar simboliek.
(Hier het ek skielik ‘n stukkie nostalgie wat dan nou vir my sommer broos laat voel … ‘n voorbeeld van ‘n gewoonte-met-betekenis:  vir jare het ek in Port Elizabeth gebly en my ouers in Welkom.  Wanneer ek huistoe verlang het, het ek altyd gesorg dat ek, laatmiddag-skraps-voor-ses, gebel het.  Die telefoon was in die voorportaal, my ma sou soms al by die telefoon sit, wetend dat ek gaan bel.  Al ditjies-datjies-rig, en dan gebeur die groot oomblik:  presies om 6 sou die groot ou “Grand Pa” klok sy ou wysie uitbeur.  Ses slae word afgeslaan.  En dan die onverklaarbare misterie:  as die klok klaar geslaan het, het die hadida’s geskreeu.  Sowaar!   Vandag nog, waar ek ook al ‘n ou regop staanhorlosie hoor, is dit vir my my “ses-uur”.  Elke keer as ek hadida’s hoor, voel ek verlang.  En bel ek.  Want dit is die mense aan wie ek behoort.)
Wat binne die gereformeerde tradisie laat ons voel dat ons “behoort”?  Ons is arm in vergelyking met die ritueelrykheid van die Katolieke of Ortodokse christene.   Die Gereformeerde teologie het ‘n waardevolle bydrae gebring, maar o weë, met ons gereformeerde soberheid het ons onsself van soveel visuele stimilusse gestroop.  Ons het so min gewoontes-gelaai-met-betekenis:  die liturgie moet elke Sondag “verrassend anders” wees (“want netnou doen mense iets uit gewoonte”).  Daar is geen voorgeskrewe rituele nie, nie eers tydens so ‘n ryke tyd soos Lydenstyd nie, want helaas, ons is individualiste, ons word nie maklik voorgeskryf nie.
So lees ek dat Katolieke christene, vandat hulle 14 jaar oud is, tydens Lydenstyd al 7 Vrydae vas (per implikasie ‘n vleislose dieët volg).  Goeie Vrydag is, dwarsdeur die eeue, gesien as ‘n dag van vas.  ‘n Dag wat in stilte deurgebring moes word.  Die Goeie Vrydag-vas is gebreek met ‘n gemeenskaplike ete.  Enkellopendes, weduwees, wewenaars; bejaardes, kind en kraai is na gesinne genooi … niemand eet alleen nie.   Want die Storie van die Kruis, is die Storie van die Kerk, is die Storie van Gemeenskap.  Wat ‘n ritueel!
Watter rituele volg jy (en jou gesin, dalk) in hierdie tyd?  Iets wat jaar na jaar gedoen word, nie omdat dit net ‘n gewoonte is nie, maar omdat dit ‘n gewoonte-met-betekenis is.  Volg ek so ‘n ritueel?  Ja, tog wel.  Jaar na jaar, in Heilige Week, luister ek, aand na aand, na een volle Requiem – met die Duitse en Latynse teks wat woord vir woord gevolg (en soms selfs met ‘n woordeboek aangevul moet word).  Verlede jaar was dit Brahms se Duitse Requiem. Oor en oor en oor.  Hierdie jaar is dit Gardener s’n.  Swaar, donker moeilike musiek.  Soos wat Lydenstyd is!  Maar as ek deur die res van die jaar ooit die musiek oor Classic FM hoor, dan “voel” ek Paasfees.   Ek lees jaar na jaar een spesifieke boek … dieselfde boek … weer van voor tot agter.  Dit is my “Paasfees-boek”.   En ek gaan dit doen tot ek nie meer ‘n boek kan vashou nie.  As ek deur die loop van die jaar bemoediging nodig het, haal ek soms die boek uit my boekrak.  Nie om te lees nie.  Om vas te hou.  Al is die boek al voos vasgehou.  ‘n Gewoonte-met-betekenis vir tye wanneer die “betekenis-van-my-lewe” vol vraagtekens is.
En nou vra ek jou:  hoe vier jy Pase?  Wat is jou Paas-Regula Ek sal graag wil hoor.  Dalk het jy ‘n ritueel wat aansteeklik is dat ander jou daarin wil na-doen.  Vertel ons…

Friday, April 15, 2011

EENVOUD: OM TE LAAT GAAN

Om ‘n lewe van eenvoud te leef, impliseer dat ‘n mens dinge moet laat gaan.  Dit is nie net ons vashou aan ons besittings, wat moet laat gaan nie, dit is ook ons idée dat wat ons besit óns s’n is, wat ons moet laat vaar.

So stuur iemand vir my die volgende meditasie aan, wat heel gepas is by geloofsdissiplines van “Dankbaarheid; Vas; Eenvoud”.

Om te laat gaan ...
  
Daar word vertel dat, terwyl hy besig was om die Skrif te lees, die woestynvader, Antonie, tot die oortuiging gekom het dat hy alles wat hy besit, moet verkoop en na die woestyn toe moet gaan en God moet soek.

Om na ‘die woestyn’ toe te gaan, beteken dikwels opoffering. Dit beteken dat jy ‘n klomp dinge sal agterlaat, of dit doodgewoon sal laat gaan. Jesus het dit meermale van sy dissipels gevra, of van mense wat Hy geroep het om Hom te volg. Of dit nou nette was, of bote, huise, families, …

Soms het Hy hulle gevra om vir ‘n spesifieke tydperk van hulle lewens hierdie opoffering te maak, en soms was dit ‘n permanente ‘afsien-van’ of ‘laat-gaan’. By geleentheid het Jesus van sy dissipels gevra dat hulle hul bekommernisse en besorgdhede met betrekking tot kos en klere moet laat gaan (Matteus 6:25-33). By ‘n ander geleentheid het Hy hulle gevra om hul verknogdheid aan hulle reputasie en status te laat gaan  (Lukas 6:22-23). Die moeilikste van alles was egter toe Jesus van hulle vra om hulleself prys te gee, “hulleself te verloën, hulle kruis op te neem, en Hom te volg” (Markus 8:34).

Die vermoë om dit waarop jy jou lewe tot dusver gebou het, te laat gaan, is ‘n vereiste om ‘n volgeling van Jesus te wees. In die Christelike tradisie word daarna verwys as ‘om rein van hart te wees’. Dit beteken dat jy jouself ondubbelsinnig en algeheel aan God toewy. Jy het niks anders in jou hart as net God nie.

Ons ego word so maklik gevorm deur mense of dinge. Dit word so maklik verknog aan tye of plekke of reputasie, status, beroep, selfs bedieninge, idees, suksesse. Dit word die kettings wat ons bind, en wat ons weerhou daarvan om Jesus te kan volg.

Friday, April 8, 2011

Wanneer die alledaagse die besondere word.

Ek het toevallig vanoggend ‘n opmerking teenoor kollega, Pieter, gemaak waaroor ek sal moet nadink:  As ek dan die ‘Formatio’-kursus vir 2011 ontwikkel het, bloot vir die geestelike ontwaking wat ek daardeur ervaar, dan skuld ek al my ‘Formatio’-vriende ‘n groot geskenk”. 
Dit is werklik hoe ek voel:  as júlle ingeskryf het vir ‘n kursus … wat my dwing om weekliks baie hieroor te lees… en wat my, deur die baie leeswerk, by ‘n spirituele verdieping bry, dan speel julle, elkeen, ‘n groot rol in my eie geestelike storie.  Dalk is dit van almal van ons waar:  méér mense speel ‘n rol in ons lewenstorie as wie ons erkenning voor gee.
Om te dink dat mense wat eeue voor ons geleef het, ons - wat na hulle kom – se lewens so kan raak!  Die bronne wat geloofsversterkend inwerk op ons lewe is legio!
Só laai ek die kleine juweelboekie van ene Lauren Winner op my kindle af:  Mudhouse Sabbath.  Nóg een van die vele boeke wat ek maandeliks aankoop om my voor te berei vir die geloofsdissiplines.  Verlede Vrydagmiddag sit-lê ek op die bed, verslind omtrent elke bladsy.  Dit wat ek in die bladsye lees, dwing my om twee vriendinne te bel:  “kom eet vanaand by my”.  Hoekom?  Want die Sabbat word nie alleen deurgebring nie!  So eenvoudig soos dit!
Soms het ‘n mens stilte en afsondering meer nodig, sodat jy juis, daarna, kan opstaan en die telefoon oplig:  ek nooi jou in my lewe in.  Stilte en afsondering, ook die sabbatsviering (wat die simbool van afsondering is) word die brug wat ons weer help om ons lewe met ander mense te vul.
Hierdie vrou se eenvoudige skryfstyl roer my siel.  Sy maak van elke ding in haar dag ‘n geestelike dissipline.  So word die enkele psalm wat sy lees (en bokant haar voordeur op die kosyn plak) byvoorbeeld die stimulus vir ‘n geestelike ervaring:  “…making Christian space out of an ordinary apartment.” 
Alles wat ons deur Formatio leer het dit as die doelwit:  om van die alledaagse ‘n besondere te maak.  En om daardie ruimte so te leef dat dit die karakter dra van leef-in-die-teenwoordgheid-van-God.
Jy sluit hierdie naweek af met die “laaste” nadenke oor die geloofsdissiplines van stilte, afsondering en Sabbatsviering.  Mag dit vir jou dan, hierdie naweek ook wees:  “this is the beginning of making Christian space out of (the) ordinary …”.

Thursday, March 31, 2011

GEVIND ... DAAROM SOEKEND

In 'n besondere boekie, "God is silence" geskryf deur Pierre Lacout, wat deur die Quakers uitgegee word, skryf Lacout die volgende:

"Words split apart.  Silence unites.
Words scatter.  Silence gathers together.
Words stir up.  Silence brings peace.
Words engender denial.  Silence invites even the denier to find fresh hope in the confident expectation of a mystery which can be accomplished within".

As ons glo dat die Gees "waai waar hy wil", dan is dit nodig dat ons "geloofseile" in gereedheid moet wees, om die Wind se krag te kan opvang.  Noem ons hierdie "wind" dalk die "asem" (stem) van God, dan sou die sin dalk kon lui:  "God praat wanneer God kies om te praat" ... juis daarom moet my geloofsintuie so ingestel wees om God se stem te hoor.

Hoe praat God?  Hier onthou ek 'n sinnetjie van CS Lewis wat ek as 'n student gelees het.  Dit het so 'n groot indruk op my gemaak, dat ek dit tot vandag onthou:

"God whispers in our pleasures,
God shouts in our pains,
but suffering is his megaphone to rouse a deaf world".

Ek het nodig om te ontdek dat hierdie tipe stilte wat die ou woestynvaders en-moeders so dringend opgesoek het, 'n "aktiewe" stilte was.  M.a.w. dit is nie maar net die stilte van 'n rystoel waarbinne ek myself, asof gehipnotiseer, aan die slaap sus nie.  Hierdie is 'n soeke na God se stem elke oomblik van die dag.  Dit is 'n ingesteldheid om God oral te hoor.  Dit vra van my 'n houding van gereedheid!

Natuurlik impliseer dit dat ek ook moet ontdek hoe baie "klank-afleiers" (of noem dit psigiese geraas) daar in my dag sal wees wat my gaan weerhou om aktief stilte op te soek.  My grootste afleier is sekerlik ek self!  Ons raak so maklik gefrustreer "omdat ons niks hoor nie". 

Maar herinner jouself, dit is God se droom dat jy God se stem moet hoor.  Inderdaad, soos Blase Pascal geskryf het:  "You would not be seeking God if you hand not already found God".  Dit is juis omdat jy God reeds ken, dat jy 'n behoefte het om meer van God se teenwoordigheid te ervaar! 

En ja, kom ek sluit af deur jou te herinner aan die woorde wat Ghandi geskryf het oor gebed:

"It is better to put one's heart into one's prayer without finding the right words, than to find the right words without putting one's heart into them".

Die inoefening van hierdie maand se dissipline (stilte, afsondering, sabbatsviering) kan inderdaad bloot 'n oefening wees.  Of dit kan 'n hartstaak word...

Tuesday, March 22, 2011

VERSLAAF AAN OPWINDING ... BANG VIR VERVELING

Die vroeë kerk (100 – 400 nC) het ‘n besige lewe as ‘n sekulêre lewe beskou. 
Die 21ste eeu se mense beskou ‘n besige lewe as ‘n produktiewe lewe.
Die vroeë kerk het iemand wat te besig was, beskou as iemand wat van God af vlug.
Die 21ste eeu se mense beskou verveeldheid as iets waarvan hulle moet vlug.
 Ek is ‘n “doen”-mens!  Moenie my langer laat wag as wat billik is nie, dan sal ek jou vinnig laat verstaan dat jy my eintlik verontrief.  My liggaamstaal sal vinnig vir jou wys dat ek gesteur voel:  ‘n bewegende voet; ‘n trillende hand; ‘n oog wat elke nou en dan na die horlosie draai; kakebeen wat geïrriteerd vasgeklem is.  As ek voorberei is op die wag, dan is dit nog onder beheer (...dan het ek “gewapen” gekom met ‘n boek of ipod), maar as dit ‘n wag is wat op my afgedwing word, dan sal ek vinnig protesteer. 
Om die wag in ‘n ry minder spannend te maak, bring besighede televisieskerms – ooghoogte – aan, en staar mense na ad nausea herhalende advertensies.  Om die sieldodendheid van die fietstrap in die gimnasium te versag, staar jy na bewegende monde van nuuslesers op klanklose nuuskanale, met onderstroke wat vir jou die jongste dollar/pond/yen se waarde aandui. 
Alles om ons gedagtes met “die volheid van niks” te vul!
Hieroor het Blaise Pascal (17de eeu) reeds baie te sê gehad:  “Die grootste enkele oorsaak vir mense se ongelukkigheid is dat hulle nie weet hoe om in hul kamer stil te raak nie”.
Waarom sou Pascal ons onvermoë om stil te raak as die enkele rede van ongelukkigheid beskou?  Stilte en afsondering dwing jou om na die werklikheid te kyk soos wat dit is.  Stilte/afsondering dwing jou om na jou lewe te kyk soos wat God na dit kyk. 
So skryf Gary Thomas in “Seeking the face of God”:  “Cultivating the quiet is a painful experience when we are addicted to noise, excitement, and occupation.  Opening the door to spiritual quiet can also open the door to spiritual fear and loneliness.  It takes a great amount of courage to face God”.
Dis ‘n verstommende gedagte wat ‘n mens in jou kop moet laat rypwerk:  is my besigwees ‘n ontvlugting van God?  
Dis nie dat jy nooit by God tyd deurbring nie.  Dis net dat dit so na “niks doen” voel nie!  Het jy al ooit gewonder hoe lank jy by God sal kan sit, voordat jy kriewelrig raak?   Ek wonder wat Moses gedink het, toe hy die opdrag kry om God op die berg te ontmoet in Eksodus 24.  “Klim nou die berg verder uit na My toe en vertoef daar dat Ek vir jou die plat klippe kan gee waarop Ek die wette en gebooie neergeskryf het vir die onderrig van die volk”.  Terwyl Moses die berg uitklim, het ‘n wolk dit omhul.  Die magtige teenwoordigheid van die Here het op Sinaiberg gebly, en ses dae het die wolk die berg omhul.  Op die sewende dag het die Here uit die wolk uit na Moses geroep.
Ses dae se sit!  My voet sou teen daardie tyd al ‘n spasma van al die op-en-af-irritasie gehad het... Ses dae se sit! My ipod se batterye sou pap gewees het...  Ses dae se sit!  My frustrasievlak sou so hoog gewees het “omdat my tyd so gemors word”...  Ses dae se sit! My taakgeöriënteerdheid sou my lankal laat opstaan het met ‘n “nou wag ek nie ‘n minuut langer nie”.
Ses dae se sit!  Geduldig!  Afwagtend!  Luisterend!  Biddend!  Wetend dat God met my wil praat.  Wat wel op die sewende dag toe tog gebeur!

Friday, March 18, 2011

DIE VERSKIL TUSSEN STILTE AS PRIVAATHEID EN STILTE AS SOEKE NA GOD SE STEM

Om te sê dat ons in ‘n wêreld met oormaat klank leef,klink so afgesaag soos om te sê dat ons in ‘n gejaagde wêreld leef.  Ons wéét dit!  Nie via boeke nie, wel uit ervaring.
Die bedoeling van die inoefening van geloofsdissiplines is juis om ons te help om uit maalkolke (soms selfgeskep, kom ons erken dit ook!) te kom en “heel” te leef. Soos dit God se bedoeling met ons oorspronklik is. Die maalkolk van die moderne mens kan natuurlik baie oorsake hê:  die wringkrag van selfgesentreerdheid wat ons soms nie eers bevraagteken nie; die leuen wat ons glo dat ‘n besige lewe ‘n “ryk” lewe impliseer; rasionalisering waarom die soeke na geregtigheid nie ‘n prioriteit hoef te wees nie.  So sou ek kon aangaan (...want die voorbeelde uit my eie lewe is legio).
Min mense wat ek teëkom (- en dit sluit myself in-) spreek nie ‘n behoefte na ‘n eenvoudiger, kalmer, stiller lewe uit nie. Die fantasie van ‘n bietjie afskaal, nader aan die natuur te leef, meer te kuier met mense wat vir jou belangrik is ... elkeen van ons troetel so ‘n ontvlugtingsfantasie....
Die probleem is dat die dissipline van stilte/afsondering/sabbatsrus inderdaad nie hieroor gaan nie.  Hierdie ontdekking maak ek in die afgelope paar dae al meer!!  Die geloofsdissipline van “tot bedaring kom” het nie te make met ‘n diep behoefte aan ‘n bietjie “persoonlike ruimte” nie.  Ons het inderdaad almal behoefte aan hierdie Ruimte vir die Self!  Maar dit is nie die fokus van hierdie maand se geestelike inoefening van ‘n stilraak nie!   Want jy kan jou lewe afskaal, jy kan inderdaad jou ruimtes van afsondering skep, ‘n dag in jou week uitsit as “jou tyd” ... sonder om in die proses die “dissipline van stilte te beoefen”.
Daar is ‘n groot verskil aan “stil raak” ... omdat die wêreld jou moeg maak, teenoor “stilraak” omdat jy God se stem weer wil leer ken.
En dít is waaroor hierdie dissipline gaan:  die ontdekking dat God steeds praat ... dat God ‘n bepaalde manier van doen het ... dat God se wil steeds herkenbaar is ... dat God steeds betrokke is in die wêreld.
Jou behoefte aan stilte/afsondering kan dus bloot ‘n private - en steeds selfgesentreerde behoefte -wees.  Jy mag inderdaad dalk afskaal, selfs fisies versterk voel (of selfs ‘n ondeurdringbaarder lagie teen die “pyle” van die moderne lewe aanleer), sonder dat jy leer hoe klink God se stem.
En dis waaroor hierdie maand se inoefening van hierdie karaktervorming gaan:  mense wat luister na God.
************************
Die vraag natuurlik is ook, hoe “klink” God se stem?  Julie Claassens (professor in Ou Testament, Stellenbosch Univ) skryf in ‘n lieflike boek, “’n Groter God:  Nuut gedink oor die Een wat ons telkens verras” ‘n paragraaf oor die ... noem dit maar ... “ewolusie” van God in die Bybel.  Aanvanklik is God se “stem” (teenwoordigheid) ‘n baie Sigbare Onmisbare:  God “praat” met Moses vanuit ‘n brandende bos; God en Moses sit op die berg ... God dikteer ... Moses skryf neer.  Geen onsekerheid oor God se stem nie.  God is self aan die woord.  Of sigbaar in natuurtekens:  die wolkkolom snags wat die volk lei deur die woestyn; snags ‘n wolk wat lyk soos ‘n vuur.
Dis opmerklik dat die duidelike praat van God, hoe meer die storie van Israel ontvou, al hoe minder duidelik en direk is.  Eers was dit in magtige natuurverskynsels.  Elia is die een wat in 1 Kon 19 ‘n nuwe manier van God se “praat” ontdek:  nie meer aardbewings en stormwinde nie.  Inteendeel, in die suutjieswaai van die wind.
Eers is die enigste manier van kommunikasie met God in die tempel (en veral die teenwoordigheid van die ark) ... maar hoe gemaak as die tempel vernietig word, en die ark verdwyn?  Nou praat God nie meer deur “dinge” nie ... skielik raak mense God se stem:  profete.  Nou is dit nie meer die “stem” vanuit ‘n brandende bos nie ... nou is dit ‘n “so sê die Here”, en gewoonlik kom die woorde uit die mond van ‘n baie ongerespekteerde profeet.
Kom ‘n mens by die laaste boeke van die Ou Testament (... en waarskynlik is dit die boek van Ester) is God glad nie eers meer “teenwoordig” in die boek nie.  Geen enkele keer praat God in die boek nie.  Nou hang die oorlewing van haar mense af “van háar vermoë om ‘n stem vir die stemloses te wees” (Claassens, 117).
Kom ‘n mens in die Nuwe Testament gebeur die “ontstellende”:  die “stem” van God word stilgemaak ... gekruisig.  Die Een wat die “Woord” is (Joh 1) se stem is te ontstellend vir die regeerders van die dag ... so Hy word uit die weg geruim.
Die storie van die kerk is mense wat die opgetekende Stem ken ... wat glo dat die Stem steeds praat ... hierdie keer nie meer in die “groot” goed nie, maar wel daar waar ‘n ou klein groepie(tjie) bymekaar kom ... 2 of 3.  Geen indrukwekkendheid nie.  Geen buldering uit die hemel.  Soms selfs so onindrukwekkend as waar net een “in sy binnekamer” is.  Glad nie die “uitspattigheid” van majestieuse kragte nie.
In die stilte...

(Julie Claassens se boek is uitgegee deur Lux Verbi BM)